Monday 23 April 2018

Geduld


Genesis 30 : 22  God het op Ragel ag geslaan en haar gebed verhoor. Hy het haar nie langer kinderloos gelaat nie.

Wanneer ons bid, hoop en vertrou ons dat God ons gebede sal beantwoord.  Ons het nou al geleer dat God se tyd nie ons tyd is nie en daarom weet ons dat dit langer kan neem as waarop ons hoop.  Dus bly meeste van ons glo, maar sou ons so lank vas staan in geloof soos Ragel?

Ragel het ook geglo dat God een of ander tyd haar gebede sou beantwoord.  Dalk het sy selfs gedink dat sy darem so ‘n bietjie van ‘n voorsprong gehad het, want Abraham was haar man se oupa.  Dieselfde Abraham vir wie God in Genesis 12 : 2 – 3 en 22 : 17 beloof dat sy nageslag sal wees soos die sterre aan die hemel of soos die sand van die see.  Ragel sou tog ‘n rol in hierdie vermeerdering moes speel? Tog bly sy wag.  Sy wag terwyl tien kinders vir Jakob gebore word by haar suster Lea asook haar twee slawe Bilhah and Zilpah. 

Ons leer ‘n wonderlike les of twee by Ragel.  Sy het aanhoudend gebid, want uiteindelik het God gehoor gegee en haar gebed verhoor (soos ons in die teks lees). 

Om te bid sonder om te glo, is tydmors.  Ragel het gebid en vas gestaan in geloof sowel as God se beloftes aan Abraham.  Haar geloof is so sterk dat sy nie glo dat God net vir haar een kindjie sal gee toe hy uiteindelik gebore word nie… daarom doop sy haar eersteling “Josef”, wat beteken “God sal byvoeg”.  Dis ‘n kragtoertjie in geloof!

Wat is die langste wat jy al moes wag op God om jou gebede te beantwoord?  Is jy besig om moedeloos te raak en hoop te verloor?  Of jy nou wag op genesing, herlewing, rekonsiliasie, vernuwing… hou aan bid… hou aan glo, maar ek wil jou ook aanmoedig om jouself af te vra wat jy besig is om te leer terwyl jy wag. Ek dink nie God laat ons moedswilliglik wag nie.  God se planne is immers altyd goed vir ons.  Wees verseker dat Hy jou lei volgens Sy perfekte wil.  In die proses word ons gevorm en gebrei in die hande van die Meester Potttebakker.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...