Thursday 19 April 2018

'n Sondige natuur


Romeine 8:6  Die dinge waarmee die sondige natuur van die mens hom besig hou, loop uit op die dood, maar die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede

Om binne die wil van God te leef is nie maklik nie.  Ons as mens beskik oor ‘n sondige natuur en daardie sondige natuur kan ons ondergang beteken. 

Om in ontkenning te leef, gaan ook nie help nie.  Die eerste stap tot genesing vir ‘n alkoholis is om te erken dat hy/sy ‘n probleem het.  Net so moet ons ook ons sondes herken alvorens ons daarmee kan breek.

Watter sonde(s) is daar in jou lewe? Vir elkeen van ons sal dit iets verskillend wees, maar daar is ook sondes waarmee ons almal sukkel.

Naasteliefde is ‘n groot probleem.  Ons is veronderstel om mekaar lief te hê met dieselfde liefde wat ons vir onsself het.  Sal jy dan van jouself slegpraat of jouself lelike name noem?  Die eie ek moet eers gekruisig word alvorens ons werklik vir ander kan lief wees.

Afgodery is nog ‘n algemene probleem.  Ons dien dalk nie ‘n goue kalf nie, maar ons afgod is dalk sport, televisie, gym, kos...  Dink maar net wat is belangriker as God in jou lewe.  Bygesê, onthou God is ‘n jaloerse God.

Word die Sabbatdag nog geheilig?  Deesdae is winkels en selfs Banke oop op ‘n Sondag en mense ondersteun hierdie winkels sonder om daaraan te dink dat hul die Sabbatdag ontheilig en iemand die geleentheid ontneem om kerk toe te gaan omdat hul moet werk.  Sondag is ‘n rusdag… vir almal… ‘n dag gewy aan God. 

Is vloek dalk iets waarmee jy sukkel?  Jy probeer so hard, maar as jy jouself kom kry, uiter jy ‘n kragwoord? Gebruik jy byvoorbeeld die Naam van God sonder dat jy daaraan dink of kyk jy na flieks of televisieprogramme wat deurspek is met Godslastering? 

Of dalk sukkel jy om nie te begeer nie.  Jy weet jy mag nie, maar dis darem swaar as iemand anders iets het of kry wat jy so bitter graag wou hê?   Dalk is jy selfs jaloers op iemand se sterk geloof terwyl jyself so maklik twyfel.

Is jy dalk besig met ‘n buite-egtelike verhouding?  Jy troos jouself dat die persoon in elk geval ongelukkig getroud is?  Sou dit so gewees het as jy nie op die toneel was nie?  Dalk is jy self ongelukkig getroud.  Het jy geweet dat die gras net so groen aan jou kant kan wees as jy dit net soveel water gee as aan die oorkant?

Miskien neem jy goed wat nie aan jouself behoort nie.  Jy probeer dit regverdig deur te dink dat die persoon in elk geval genoeg het en jy nie naastenby soveel nie.  Dit bly steel as dit nie aan jou behoort of jy nie daarvoor gewerk het nie. 

Dalk vertel jy skindernuus oor vir die waarheid en jy besef nie dat die storie al soveel stertjies bygekry het dat dit lankal nie meer waar is, maar eerder vals getuienis is. 

Het jy dalk iemand se lewe geneem? Of het jy dalk moordgedagtes teenoor iemand?

Hoe tree jy teenoor jou ouers op?  Respekteer jy hulle?  Dalk reken jy hulle verdien nie om gerespekteer te word nie.  Feit is jy moet jou ouers respekteer sonder enige voorbehoud.  Dit beteken dat jy hul met liefde sal behandel, nie op hul skel en vloek, selfs vir hul sorg waar nodig.  Jou ouers is miskien nie perfek nie, maar hul bly die ouers waaruit jy gebore is.

Daar is ‘n rede hoekom God vir Moses en vir ons ‘n wetboek gegee het.  Ons kan die sondige natuur afsterf as ons God vra om ons te help.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...