Tuesday 17 April 2018

In God se greep


Jesaja 41 : 10   Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou

Ons almal beland een of ander tyd in situasies waar ons buite beheer voel; bang raak.  Dis maklik om dan ontmoedig te voel en toe te laat dat vrees jou oorweldig.  Dis tye wat jy juis moet onthou dat God vasgegryp het en met Sy eie twee hande vashou.  Daar is niks te moeilik vir God nie.  Onmoontlik is nie deel van God se woordeskat nie. In Sy greep, is jy volkome veilig;  jy is versorg.  In Sy hand is oorwinning, krag en voorsiening… In Sy hand is alles wat jy nodig het.

Maak nie saak waardeur jy vandag gaan nie, jy kan God volkome vertrou, want Hy is vir jou.  In plaas van in ‘n depressie te verval oor jou omstandighede, kyk op en visualiseer hoe God jou situasie omdraai.  Blaas die flammetjie van geloof aan, koester dit in jou binneste tot dit behoorlik vlamvat.  Sien voor jou geestesoog guns, promosie en oorvloedige seëninge.

Indien ons dieselfde ywer aan die dag lê met positiewe denke as wat ons met negatiewe denke doen, kan dit net vrugte afwerp.  Dit lig jou op en gee jou hoop. 

Ons verloor so maklik God se beloftes uit die oog.  Dieselfde beloftes wat in Die Bybel aangeteken is, is van toepassing op ons.  Die Bybel is God se getuigskrif en Hy doen aansoek vir die belangrikste pos in jou lewe… jou persoonlike Lyfwag.  Met Hom aan jou Sy hoef jy niks te vrees nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...