Monday 16 April 2018

Waarop is jy ingestel?


Psalm 68 : 1   As God verskyn, spat sy vyande uitmekaar, 

As jy nou dood eerlik moet wees, wat geniet die meeste aandag in jou lewe? Waarop is jou gedagtes ingestel?  Wat tap jou energie?

Miskien sê jy:  “Wel, dis maklik, want ek sukkel met my finansies, so ek maak dag en nag planne om net met my geld uit te kom.  Elke sent word gerek tot sy oë traan.  Ek het my uitgawes tot op die been gesny en steeds is daar nie genoeg om al die gate toe te stop nie.”  Iemand anders mag dalk sê:  “Ek is so ongelukkig in my werk dat ek al my tyd en energie spandeer om vir ander werk te soek.”  Vir nog iemand mag dit wees:  “My huwelik is op die rotse.  Ek is emosioneel afgebreek en moet al my kragte inspan om net staande te bly ter wille van my kinders.  Finansiëel kan ek nie op my eie twee bene staan nie, so ek bly vasgevang in hierdie huwelik of ek wil of nie.”  ‘n Ander persoon mag weer gesondheidsprobleme ervaar.   “My mediese uitgawes oorheers alles en ek of my geliefde word nie beter nie.  Daar is dalk nie meer hoop nie.”  Of dit nou ‘n motor is wat breek, ‘n kind wat sukkel om te leer, vriende wat jou teleurgestel het… dit is jou realiteit en ongelukkig is dit wat die meeste aandag in ons daaglikse denke kry.

Kan jy sien hoe maklik fokus ons op die omstandighede.  Ons omstandighede mag wanhopig, ongelukkig, verlore en hooploos daaruit sien, maar dis net die omstandighede.  Dink jy dat God nie in hierdie omstandighede teenwoordig is nie?

Begin fokus op God.  “My finansies is beroerd, maar God kan dit binne ‘n oogknip verander… Ek mag dalk ongelukkig wees by die werk, maar dit beteken nie dat God nie vir my ‘n beter deur kan oopmaak nie…  My huwelik is op die rotse, maar God is die Een wat verhoudings herstel, al lyk dit totaal en al onmoontlik… Die dokters mag dalk sê daar is nie hoop nie, maar God is die groot Geneser… My kar breek aanmekaar, maar ek weet ek gaan binnekort in ‘n ander motor ry…  My kind mag dalk sukkel om te leer, maar God kan die regte mense oor ons pad bring wat my kind verstaan en sal help… Hierdie vriend(e) het my dalk in die steek gelaat, maar God het iemand baie spesiaal in gedagte wat binnekort my pad gaan kruis…

Jy sien, wanneer God eerste plek in jou lewe beklee, val die res eenvoudig in plek. Geen vyand het ‘n kans teen jou in die teenwoordigheid van God nie.  As God op die toneel kom, spat jou vyande uiteen.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...