Wednesday 4 April 2018

Vlêrmuise

Matteus 9:36  het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.

‘n Vlêrmuis vlieg teen verblindende spoed in die pikdonker nag, maar sit hom plat op die grond en die vlêrmuis sal ten beste hulpeloos rondflap. 

Jy flap ook hulpeloos rond.  Jy is uit jou gemaksone, dalk as gevolg van ‘n egskeiding of omdat jy jou werk verloor het.  Dis nie maklik nie.  Dikwels verloor ‘n mens nie net op materiële en finansiële gebied nie, maar jy word ook emosioneel teruggesit.  Ewe skielik meet jy jouself aan ander en jy voel jy skiet oral te kort.  Jou menswaardigheid lei daaronder en jy glo dat jy nooit weer sal opstaan uit die stof nie.

Hoe dit ookal sy… dis nie omdat jy nie meer kan vlieg nie, maar net omdat jy jouself op ‘n plek bevind waar jy dink dat jy nie meer oor die nodige vaardighede beskik nie.  Herinner jouself aan wie jy is en waartoe jy in staat is.  Die vlêrmuis het nog steeds alles gehad wat van hom ‘n vlêrmuis maak.  Jy is ook steeds dieselfde mens wat jy was voor hierdie terugslag.  Moenie toelaat dat dit wat met jou gebeur het jou oortuig dat die fout by jou lê nie.

Al wat dit vlêrmuis nodig gehad het, was om te spartel tot op ‘n plek waar hy kon aftuimel en daar gaan hy. 

Jy sal ook nie vir altyd hulpeloos spartel nie, want God het gesien hoe swaar jy kry en net soos wat Hy destyds meegevoel gehad het en die mense gehelp het, sal Hy jou ook weer op jou voete help.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...