Thursday 5 April 2018

'n Leë graf


Johannes 20:6  Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan. Hy sien toe die doeke daar lê,

Deesdae is dit glad nie vreemd om te hoor dat mense ‘n intense leegheid ervaar nie.  Daar is hierdie vakuum in hul binneste wat hul op elke moontlike manier probeer vul en tog bly die leegheid. 

Party is leeg omdat hul sukses najaag.  Elke keer neem hul nog ‘n stappie hoër op die suksesleer en tog bly hul onvergenoegd.  Ander het ‘n leë beursie.  Daar is nooit genoeg geld nie.  Hulle voel asof hulle vir almal moet sorg en dat niemand vir hul sorg nie.  Dan is daar diegene wat hulself in leë verhoudings bevind.  Daar is geen warmte, geen aanraking, geen sagte woord.  Al is hul omring deur mense, bly hul eensaam en alleen, hunkerend na liefde.  Mense met leë mae word al meer rondom ons.  Armoede is besig om mense op hul knieë te dwing.  Daar is ‘n desperaatheid… wat sit ek vanaand vir my kinders voor?

Ons het Sondag Paassondag herdenk… die opstanding… ‘n leë graf.  In hierdie leë graf lê die antwoord.  Jesus Christus het opgestaan… Hy leef.  Omdat Hy leef, het ek en jy hoop… Omdat Hy leef, kan ons môre in die oë kyk.  Hoekom?  Omdat die leë graf hoop bring.

Net God kan hoop voortbring uit ‘n leë graf.  Wanneer jy Hom in jou lewe innooi, verdryf Hy die leegheid op elke vlak in jou lewe.  Net by God is daar ware rus.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...