Sunday 3 June 2018

God mors nie


Johannes 6 : 12  Nadat die mense versadig was, sê Hy vir sy dissipels: “Maak die stukke bymekaar wat oorgebly het sodat daar niks verlore gaan nie.”

Hier word vertel van ‘n keer toe Jesus ‘n skare van vyfduisend (en dit was net die mans) met vyf broodjies en twee vissies gevoed het.  Hy het dit geseën en vermenigvuldig.  Daardie dag, nadat almal genoeg geëet het, was daar nog twaalf mandjies vol brood en vis oor.

Wie sou nou omgee as daar kos rondgelê het;  daar was immers meer as genoeg.  Nee, Jesus vra dat hul die oorskiet optel sodat niks gemors word nie.  Baie mense lees hierdie verhaal en natuurlik is hul beindruk en onthou hul hoe die bietjie kos vermeerder is, maar min mense besef dat God ons nog ‘n les leer.  Dat hy nie daarvan hou om enige iets te mors nie.  God gebruik alles, maak nie saak hoe min dit is nie.  Met God is niks ooit klaar nie.  Hy sal nooit ‘n geleentheid verbrou nie.  Hy sal nooit sommer net iemand laat seerkry nie.  Hy sal nooit ‘n droom plattrap nie.  Hy sal nie eens ‘n krummeltjie weggooi nie.

Dalk voel jy of jy jare lank gemors het in die verkeerde verhouding of werk.  Miskien voel jy dat jy jare vermors het deur ydel plesier.  Dalk voel jy asof jy jou tyd gemors het met verkeerde vriende.  Dalk voel jy asof jy jou swaarverdiende geldjies mors, want jy het nooit enige iets om weg te sit nie.

Kyk wat doen God.  Hy neem die vis en broodjies by die seuntjie, iets wat niemand gedink het op daardie stadium enigsins genoeg sou wees om ‘n skare te voed nie.  Net so sal God ook die verlore jare, verlore geleenthede, verlore inkomste neem wat die vyand van jou probeer steel en dit tot jou voordeel aanwend. Al dink jy jy’t jou tyd gemors, moet jy besef dat niks ooit ‘n mors van tyd is wanneer God ingryp nie.

Moenie vandag mismoedig voel nie.  Hy is jou Voorsiener en hy sal nie toelaat dat ‘n krummeltjie van jou lewe gemors word nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...