Monday 13 August 2018

Die Matteus 6 beginsel


Matteus 6:25  “Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

Vandag wil ek gesels met iemand wat skool verlaat het op ‘n baie jong ouderdom… iemand wat eenvoudig besluit het dat skoolgaan nie vir hom of haar is nie.  Dalk was jy ongelukkig as gevolg van redes wat net jy weet.  Miskien was jy geboelie.  Dalk het jy minderwaardig gevoel omdat dit voorkom asof die ander kinders dit so maklik het en jy moet met die minste klaarkom.  Miskien is jy disleksies of jy leer moeilik of jy verstaan goed net nie so maklik nie.  Wie weet, dalk het jy skool verlaat omdat jou ouers gevoel het dat jy in elk geval nie leer nie en net sowel ‘n inkomste kan begin verdien.

En nou kry jy nie werk nie.  Of jy doen werk waarvoor jy bitter min betaal word.  Jou vriende het dalk al matriek gemaak en studeer verder en jy sukkel steeds voort.

Moenie moed verloor nie.  Robert de Tourneaux was iemand wat in graad 6 besluit het dat hy nie verder wil skoolgaan nie.  Dit het egter nie daar gebly nie.  Hy het skouer aan die wiel gesit en ‘n entrepreneur van formaat geword.  Hy is die grootste vervaardiger van grondverskuiwings masjinerie met fabrieke op 4 vastelande en meer as 300 patente geregistreer teen sy naam. Hy het ‘n fenominale bydrae gelewer i.t.v. pad konstruksie en swaar toerusting wat die wêreld vir altyd verander het.

Hy was ook ‘n Christen.  En dit is hier waar mense hom veral sal onthou.  Hy was een van die mees formidabele Christen sakemanne wat jy ooit sal teëkom.  Onder andere het hy 90% van sy inkomste gegee vir die verspreiding van die woord en glo hy dat hy heel gerieflik kan leef van die oorblywende 10%.

Jy sien hy het die beginsel in Matteus 6 volkome verstaan en daarin geglo.  Niks is belangriker as die lewe nie en boonop belowe God om te voorsien en daarom hoef jy jou nie siek te maak oor inkomste en besittings nie.

So die feit dat jy nie skool klaargemaak het nie, beteken nie dat jy ‘n mislukking is nie.  Robert is ‘n tekenende voorbeeld van wat vermag kan word as jy eenvoudig voortbeur en in jouself glo.

God het jou gemaak en toegerus met alles wat nodig is om ‘n sukses van jou lewe te maak.  Moenie dat enige iemand jou anders vertel nie. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...