Tuesday 14 August 2018

Selfbeheersing


Spreuke 25:28  ‘n Stad sonder 'n muur om hom te beskerm, so weerloos is 'n mens as hy nie selfbeheersing het nie.

Wanneer jy met iemand gesels oor byvoorbeeld hul verslawing aan drank, hoor jy dikwels dat dit alles begin het omdat hul nie vir hulself kon nee sê nie.  Nog net enetjie…

Of dit nou drank, pornografie, kos, dwelms of wat ook al is… dit sal nooit ‘n probleem word as jy selfbeheersing aan die dag lê nie.  Wanneer jy nie jou eie drange of begeertes in toom kan hou, beteken dit dat jy beheer oorgee aan satan.  En glo my dit is presies wat hy wil hê.  Hy weet hy moet jou net sover kry om te glo jy verdien nog ‘n drankie, happie, pilletjie… 

Sou jy selfbeheersing toepas, is dit soos om ‘n muur om jou te bou… ‘n muur wat jou beskerm.  Ons weet dat Jerigo beskerm was deur ‘n muur.  Die oomblik toe daardie muur ineenstort, was die stad weerloos.  Net so is jy weerloos as jy jou selfbeheersing skietgee.  Aag, ek gaan net vanaand ‘n bietjie oorboord, want dis so ‘n lekker partytjie… Ek sal Maandag begin met daardie dieet…  Ek kyk net na pornografie, ek doen niks verkeerd nie.

Selfbeheersing is nie altyd maklik nie, maar dit is die moeite werd.  En as jy die versoeking een keer weerstaan het, kan jy dit weer en weer weerstaan.  Elke keer bou jy die mure om jou ‘n bietjie hoër en beskerm jy jouself teen die aanslae van die bose.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...