Thursday 23 August 2018

'n Reus vir God


1 Timoteus 6:18  Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam

Wanneer jy die naam Rockefeller hoor, hoor jy terselfdertyd muntstukke klingel.  Baie geld en baie bekend.  Min mense weet egter dat John D Rockefeller Snr ook ‘n ‘n ware Christen genoem kan word en dat dit heel waarskynlik is hoe hy eerder sou wou onthou word.
John D Rockefeller Snr kan maklik gesien word as die mees gesiene besigheidsman van sy era.  Op ‘n stadium is sy netto waarde gesien as die grootste in die wêreld. 

Meeste van sy rykdom het hy gemaak deur Standard Oil wat op ‘n stadium gesien is as ‘n kragtige monopolie in die sake geskiedenis van Amerika.  Hulle het sowat 90% van Amerika se olierafinadery mark besit en die wins wat hul daaruit gemaak het is vir meeste van ons ver bo ons begrip.

Hy het die maatskappy, saam met ‘n paar vennote, oor baie jare opgebou.  Intussen het hy sy hele volwasse lewe elke Sondag kerk bygewoon.  Hy was ook ‘n toegewyde gesinsman.  Sy waardes is oorgedra aan sy seun John Jnr en kleinseun John III.  Ook hierdie twee afstammelinge was toegewyde Christene wat baie produktiewe lewens gelei het. 

Op die ouderdom van 55 het Rockefeller Snr afgetree, maar die volgende 42 jaar het hy daaraan gewy om sy rykdom te gebruik om ‘n verskil in die wêreld te maak.  Hy het langer goed gedoen as wat hy bestee het om geld te maak.  Hy word gesien as die mens wat die meeste geld vir die verbetering van die mensdom gegee het… ooit!.  ‘n Filantroop van formaat en ‘n uitsonderlike reus vir God.  Een van die dinge wat hom na aan die hart gelê het was swart Amerikaners wat toe pas uit slawerny bevry is.  Sy vrou, Getty Spellman, se pa was een van die eerstes om sy slawe vry te stel.  Hy het o.a. die mees gesiene swart Vrouekollege in Amerika gestig i.e. Spellman College.  Hy het ook ander opleidings institusies en skole gestig, maar hy wou nooit sy naam daaraan koppel nie omdat hy gevoel het hy is net ‘n rentmeester van God se rykdom.

Ironies genoeg sal sy naam altyd sinoniem wees met die geld wat hy gemaak het eerder as sy lewe as Christen, ‘n Godvresende man wat onwrikbaar in die lering van Die Bybel geglo het.  Uiteindelik weet ons dat al die geld in die wêreld, selfs soveel as wat ‘n Rockefeller besit, jou nie in die hiernamaals kan kry nie.  Jou geloof, om God as jou Verlosser en Saligmaker te ken en goeie dade, dit is wat regtig saakmaak en hierdie man het die waarheid ontdek en meer as net geld vir sy nageslag nagelaat.

Terloops sy ma het hom van jongs af beinvloed en dit was haar geloof wat hom gedryf het om ook ‘n kind van God te word.  Sy pa was die teenoorgestelde en daar word gesê dat hy ‘n twyfelagtige en nie ‘n baie eerlike lewe gelei het nie.  Soms sou hy vir maande eenvoudig verdwyn en eendag net opdaag met baie geld.  Hy het ook ‘n sadistiese kant gehad, maar geglo dit help om sy kinders ‘skerper’ te maak.  Hy sou hul byvoorbeeld uitdaag om te spring terwyl hy sy arms uithou om hul te vang en dan wegtree sonder om hul te vang.  Op 16 het John besluit hy het genoeg gehad van die wisselvalligheid en dat dit tyd is om op sy eie bene te staan.  Via  afstandonderrig het hy ‘n boekhoukursus voltooi en toe by maatskappye gaan aanklop om werk. Dit was die jaar 1854.  Hy het fanaties gespaar en binne 5 jaar sy eie maatskappy begin.  Die res is geskiedenis, soos hul sê. 

Die fondasie wat sy ma gelê het, sou hom egter veel verder neem as sy finansiële vermoëns.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...