Sunday 26 August 2018

Selfondersoek

1 Korintiërs 13 : 5  Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Selfondersoek kan uiters pynlik wees.  Meeste van ons vermy dit.  Dit is veel makliker om te glo dat ek perfek is, dat ek in geloof lewe, en te ignoreer dat my lewe in chaos is as wat dit is om hand in eie boesem te steek.

Volstruispolitiek gaan nie werk as dit by jou geloof kom nie.  Jy kan nie jou kop in die sand druk en weier om te erken dat daar dinge in jou lewe is wat nie reg is nie.

Daar is ‘n verhaaltjie wat ek iewers gehoor het van satan en sy makkers wat gewonder het hoe hul mense kan verhoed om tot bekering te kom.  Hul het allerhande planne gehad.  Hul sou byvoorbeld vir die mense sê om nie Bybel te lees nie, of vir hul te sê die Woord is nie waar nie, of dat God nie bestaan nie, maar uiteindelik het een van hulle gesê:  “Kom ons sê net vir hulle hul hoef nie vandag tot bekering te kom nie.”  En almal was dit eens… die ou gesegde van uitstel kom afstel, is die wenresep.

Wanneer jy wil oorgee, moet jy jou sondes bely.  Dus moet jy eerstens weet wat verkeerd is in jou lewe.  Is daar dinge wat jy moet afsterf? Dan moet jy erken dat jy glo in die Drie-enige God en dat Jesus aan die kruis gesterf het vir jou sondes sodat jy vir ewig kan leef… dat Hy jou Verlosser en Saligmaker is.

Moenie uitstel nie.  Deur jou sondes te ignoreer, laat hul nie weggaan nie.  Ons het almal foute en selfs al kom jy vandag tot bekering, mag jy dalk weer terugval.  Bekering is ‘n reis, dit is nie ‘n bestemming nie. Jy sal ervaar hoe jy groei in geloof en God se genade sal jou dra.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...