Wednesday 15 August 2018

Wees die positiewe een


Efesiërs 4 : 27        Moenie die duiwel vatkans gee nie.

Al wat satan moet doen om jou vrede te steel, is om vrees in jou aan te wakker.  In Suid-Afrika is dit vandag nie juis ‘n kuns nie.  Ek hoef nie uit te brei hierop nie.  Tensy jy op Mars leef, weet jy dat hier genoeg nuus is om meeste mense die horriepiep te laat kry.

Hoor een ding vandag baie mooi en duidelik.  Vrees is nie van God nie.  Vrees is wanneer satan sy greep op jou kry deur jou bang te maak.  Vrees verlam ons en is die teenoorgestelde van hoop.  By God is daar altyd hoop.  Satan sal jou egter so verlam met vrees dat jy hoop gaan verloor.

Die goeie nuus is dat God groter is as enige vrees.  Sy krag in jou is groter as enige mag teen jou.  Om Sy krag egter tot volle werking te bring, moet jy die deur vir vrees toemaak.  Moenie die deur van jou lewe eens op ‘n skrefie oopmaak vir vrees nie, want voor jy jou kom kry het hy homself ingewurm.  Dit is hoekom ons selektief moet wees vir dit wat ons lees, na kyk of wie ons na luister. 

Jy sal min hoor dat iemand na jou toe kom en sê:  “Ek moet jou net vertel hoeveel hoop ek het…”  Nee, mense sal eerder met mekaar praat oor hul vrese en dit sodoende nog groter maak.

As jy toegelaat het dat vrees met jou op loop sit in enige area van jou lewe, het ek goeie nuus vir jou.  Jy kan vandag nog uit  daardie beklemmende kloue ontsnap.  Begin deur lewe te spreek. Lees jou Bybel en mediteer op God se beloftes.  En wanneer jy met ander gesels, wees die positiewe een, die een wat hoop bring en nie vrees aanwakker nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...