Wednesday 12 September 2018

Maak plek vir God


Hebreërs 13 : 5  Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”

Omdat daar ‘n tyd in my lewe was waar ek finansieël baie swaar gekry het, is ek tot vandag toe onrustig as ek nie ten minste my eie voorraad kruideniersware het nie.  As dit net lyk of iets naby aan leeg is, vul ek dit aan en partykeer koop ek twee en drie van ‘n item.  My koskaste kreun onder die gewig.  En ek moet helaas erken dat daar tye kom dat ek goed moet weggooi soos byvoorbeeld sopertjies of meel omdat daar goggas in is.  Daar is soveel items dat ek nie eens weet wat ek het nie en as ek die kas 'n slag regpak is ek verstom om te sien wat ek alles het; goed waarvan ek al vergeet het.  Selfs die kis vrieskas is oorlaai en ek kom selde by die onderste helfte uit.

Dit het my laat besef dat ek inderwaarheid my vertroue in my eie voorsiening plaas en nie noodwendig in God nie.

Ek moet ook erken dat ek nog nooit, selfs jare later, te veel het nie, maar ook nie kan sê dat ek ooit tekort gehad het nie.  So as ek eerstehands gesien het dat God my nog nooit in die steek gelaat het nie, hoekom vertrou ek Hom nie?  Hoekom staan ek nie op die Woord wat sê dat God my nooit in die steek sal laat nie… dat ek nooit alleen sal staan nie?

Dit is heel waarskynlik omdat ek oor tyd so geindoktrineer is deur my eie bekommernis wat die vyand lekker staan en aanblaas dat ek nie besef ek is besig om ‘gierig’ te wees nie.

Bekommernis op sigself is ‘n erkenning van my gebrek aan geloof.  Dus moes ek vandag baie ernstig met myself gesels en weereens herinner dat ek moet plek maak sodat God na vore kan tree.  Ek gee Hom nie eens ‘n kans nie.  

Ek is nie die enigste persoon wat in God se pad is nie.  Op watter gebied vertrou jy God nog nie ten volle nie?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...