Thursday 13 September 2018

Belangrike mense


Matteus 23 : 11 -12  Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien.  Wie hoogmoedig is, sal verneder word, en wie nederig is, sal verhoog word.”

Ken jy ook mense wat altyd verwys na een of ander bekende wat hul ken?  Mense wil so graag belangrik wees en as hul dan nie self belangrik is nie, wil hul ten minste seker maak dat jy weet dat hul met belangrike mense skouers skuur.

God se orde het nog altyd agterstevoor om gewerk.  Hy reken die grootste en belangrike mense moet bereid wees om ander te dien!  Ons weet almal dat politici veronderstel is om die mense te dien, maar ongelukkig dink meeste van hul dat hul te belangrik is.  En hul is nie die enigste mense wat so gesteld op hul eie belangrikheid is nie.

As jy ‘n belangrike persoon is, is jy bereid om ander te dien of verwag jy dat ander spring as jy jou vingers klap?  Glo my mense gaan jou nie minder respekteer as jy nederig is nie.  Dis dalk vandag vir jou nodig om te hoor dat diegene wat hoogmoedig is verneder sal word.  Die teenoorgestelde is ook waar.  Diegene wat nederig is, sal verhoog word.  Daardie selfde persoon waarop jy neerkyk, gaan eendag deur God verhoog word… die boemelaar wat deurskynend geword het… die persoon wat tee maak by die werk… die man wat ons dromme leegmaak…  En hiermee sê ek nie dat hul minderwaardige mense is nie.  Ons leef in ‘n gemeenskap waar sosiale status ons optrede dikteer.  Ons hanteer beslis die persoon wat ons dromme leegmaak anders as wat ons die dominee of dokter hanteer, of is my persepsie verkeerd?

Dis dalk juis hoekom Jesus nie by konings tuisgegaan het hier op aarde nie.  Hy het homself geskaar by diegene wat ander as randfigure gesien het.

Belangrik of nie, ons gaan eendag almal dieselfde paadjie en wanneer ons voor God staan sal ons titel of sosiale stand absoluut niks beteken nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...