Sunday 30 September 2018

Respek


Levitikus 19:32  “Uit eerbied vir jou God moet jy eerbied bewys aan oumense en hulle met respek behandel. Ek is die Here.

Selfs die regering is raadop met die geweld wat daar deesdae heers.  As dit nie geweld teenoor vroue en kinders is nie, dan is dit verkragting.  Statistiek oor verkragtings op Universiteitskampusse is ongehoord hoog.  Ons is al amper imuun teen geweldadige betogings oor dienste ensomeer.  ‘n Nuwe euwel is kinders wat onderwysers aanval en selfs vermoor.  Wanneer die regering nie weet wat om te doen, dan moet daar ‘n kommissie saamgestel word om die oorsaak te soek.

Dalk is ‘n kommissie of ondersoek nie nodig nie.  Dalk moet hul net die man op straat se mening ‘n slag vra.  My beskeie mening is dat die probleem by ‘n gebrek aan waardes lê.  Waardes vorm die fondasie vir enige gemeenskap.  Neem waardes weg en die ‘gebou’ stort ineen. 

Die Bybel praat van respek teenoor oumense.  As ons nie eens respek vir weerlose oumense het nie, hoe kan ons respek vir enige iemand anders hê?  Kinders het nou baie mooi dopgehou hoe volwassenes hul gedra.  Stel jouself voor jy is ‘n kind in Suid-Afrika.  Jy sien dat daar min tot geen gevolge is vir wandade nie.  Grootmense kan vandaliseer, afbrand, vernietig, verkrag… selfs moordpleeg.  Die ergste wat kan gebeur is dat hul gevang word en dan vir jare op die staat se onkoste gehuisves word waar hul meer voorregte geniet as meeste hardwerkende mede-landsgenote. 

Daar is net een oplossing.  Ons moet teruggaan na basiese Christelike waardes.  Dit is tyd dat ons as ouers besef ons gedrag is belangriker as ons woorde.  Ons kan nie verwag ons kinders moet maniere hê as onsself nie ‘n voorbeeld stel nie.  Elkeen van ons moet na ons eie gedrag / optrede kyk en onsself afvra of ons waardig is om nagevolg te word. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...