Sunday 23 September 2018

Oestyd


Galasiërs 6 : 9  Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.

Ek het iewers gelees dat die held en die lafaard altwee vrees ervaar.  Die verskil is dat die held sy vrees projekteer op sy opponent terwyl die lafaard weghardloop.  Presies dieselfde vrees;  die enigste verskil is wat jy daarmee maak.

Ons word dikwels gekniehalter deur toe te laat dat dit wat ons nie kan doen nie ons weerhou van wat ons kan doen.  As jy bang is vir vlieg moenie dat dit jou daarvan weerhou om die wêreld te verken nie.  Vind bloot ‘n ander manier van reis. 

Ek glo ook dat jy jou vrese moet trompop loop.  Baie mense het ‘n vrees om voor mense te praat.  As jy voor mense staan en jy vertel vir niemand dat jy senuweeagtig is nie en jy sorg dat jy goed voorbereid is, gaan niemand weet jy is senuweeagtig nie.  Kort voor lank gaan jy meer gemaklik raak en dalk ‘n baie bekende spreker word.

So byvoorbeeld loop mense geleenthede mis omdat hul vrese het wat hul nie kan oorwin nie.  Roger Babson het gesê:  “As dinge verkeerd loop, moenie saam met hulle loop nie.”  Daar moet ‘n ander manier wees… daar is altyd meer as een manier.  Die persoon wat suksesvol is, is dikwels die een wat nog net een keer meer probeer as diegene wat opgee.

Die lewe is nie ‘n resies nie.  Dit is ‘n reis.  Die verskil tussen ‘n resies en ‘n reis is pyn vs die gebrek aan pyn.  Ons doen onsself dikwels soveel onnodige pyn aan.  Geniet liewer die reis en op die bestemde tyd… terwyl jy doen wat jy moet doen, sal jy wel die oes insamel.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...