Tuesday 4 September 2018

Voor my geboorte


Psalm 139 : 16  U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

Dierbare Hemelse Vader, vandag kom ek na U om sommer net met U te gesels.  U ken my beter as enige iemand anders.  U het my selfs geken voor my geboorte.  Daar in my moeder se skoot het U my noukeurig aanmekaar geweef.  U het alreeds besluit dat ek uniek en kosbaar sou wees.  U het moeite met my gedoen en my vir ‘n spesifieke doel geskep.  Vandag wil ek U vra om daardie visie aan my te openbaar.  Here, ek het lank genoeg rondgedobber.  Ek het nou al alles probeer, maar dit voel altyd of daar iets ontbreek.  Here, ek glo dat U veel meer vir my in gedagte het as dit wat ek tot nou toe bereik het.  En daarmee bedoel ek nie dat ek ryk of beroemd wil wees nie, ek wil net in U perfekte plan vir my lewe inpas.  My behoefte om te verstaan wat die roeping is waarvoor ek geskep is, is amper desperaat.  Dis asof ek ongeduldig raak. Ek wil weet.  Ek moet weet. 

Ek weet dat U my geskape het met alles wat ek nodig het om die mens te wees wat U wil hê ek moet wees.  Ja, ek weet ek was so ‘n bietjie hardkoppig en het my eie pad gevolg, maar ek het ook geleer.  Hemelse Vader, wys my die gawes wat u in my geplaas het en hoe ek hul tot U eer kan ontwikkel en aanwend.   Romeine 12 : 6  Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het.  

Ek wil vrypostig U kind wees.  Ek wil U met volle oorgawe dien en binne U wil leef.  Psalm 40 : 9  Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe.”  Maak my ontvanklik vir die seëninge wat U vir my gereed hou. 

Here, leer my om te laat gaan… te laat gaan van dinge en goeters… laat ek eerder vashou aan dit wat Ewigheidswaarde het.  As daar mense in my lewe is wat nie deel van U Goddelike plan vir my lewe is nie, wys dit vir my asseblief en gee my vrede wanneer ek laat gaan.  Ek wil U met my hele hart dien.

Leer my om U stem te hoor en vul my met genade en moed om u vreesloos te volg. Mag die begeertes van U hart ook die begeertes van my hart word. 

Dierbare Here, as dit U wil is, vergroot my grondgebied wanneer ek gereed is, maar vergroot ook my kapasiteit om te glo dat U die bietjie wat ek oor beskik kan vermeerder bo enige iets wat ek kan dink of vra.

Ek is gereed, Here.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...