Wednesday 5 September 2018

Dis nooit te laat nie


Lukas 8 : 49 Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”

Jairus het nogal ‘n belangrike status in die gemeenskap geniet. Jou belangrikheid is egter geen waarborg daarvoor dat jy of jou kinders nie deur ‘n krisis sal gaan nie.  Jairus het wel geweet waarheen om te hardloop toe onheil hul gesin tref.


Ook die moeder in Matteus 15 : 22 het geweet waar haar hulp vandaan kom.  'n Kanaänitiese vrou wat in daardie gebied gewoon het, het onverwags by Hom aangekom. Sy het aanhoudend geroep: “Ontferm U oor my, Here, Seun van Dawid! My dogter is in die mag van 'n bose gees, en dit gaan sleg.”

Wanneer jou kind iets oorkom, is menige ouer geneig om hulself te blameer.  Jy wonder altyd of jy nie strenger moes wees, of dalk meer toegeeflik, of meer betrokke of dalk meer moes toegee…

Realiteite is dat ouers nie altyd vir hul kinders se dade verantwoordelik kan wees nie.  Jy het nie vir jou kind dwelms gekoop nie.  Jy het nie vir jou kind drank gekoop nie.  Jy het nie vir jou kind gewys hoe om op pornografie webblaaie te kom nie.

As ouer doen jy die beste op die oomblik en daar is geen waarborge nie.  ‘Slegte ouers’ kan goeie kinders die wêreld instuur en ‘goeie ouers’ se kinders kan die pad byster raak. 
Dus is daar slegs een antwoord.  God.  Bly op jou knieë vir jou kind(ers).  Bly bidden… vra raad… vra hulp.

Jairus het geweet dat hy by Jesus moes uitkom toe sy dogtertjie siek was.  Dalk sê jy, ja ek het ook aanhoudend gebid, maar dit het my niks gehelp nie.  Kyk waar sit my kind… in ‘n tronksel!  Toe Jairus die eerste keer vir Jesus gevra het om na sy dogtertjie te kom kyk, het sy nog geleef, maar op die ou end het die mense kom sê hy hoef nie meer te worry nie, want die kind is nou in elk geval dood.  Was dit te laat vir die dogtertjie?  Nee!  By God is dit nooit te laat nie.

Hou aan bid en glo vas dat Hy jou kind sal uitred en weer op die regte pad bring.  Ons dien ‘n omgee God.  Wanneer jy bid en jou geloof in Christus plaas, kan Hy dinge in jou familie doen wat jou sal verstom!

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...