Monday 19 November 2018

Dis ek wat so oulik is


Deuteronomium 8 :  17 – 18 Jy kan dalk dink: my krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf.  Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf. So hou Hy die verbond in stand wat Hy met 'n eed aan jou voorvaders beloof het. So is dit nou nog.

Dien jy die Almagtige God of dien jy die almagtige rand? 

Wanneer alles wat iemand aanraak suksesvol is, sê ons so iemand is gebore met ‘n goue lepel in die mond.  Daar is mense wat, op die oog af, baie maklik sukses behaal.  Reeds op skool kom ons agter dat party van ons eenvoudig makliker leer as ander.  Party spandeer ure voor die boeke en behaal gemiddelde punte.  Ander maak skaars ‘n boek oop en kry onderskeidings.  Dan volg universiteit / kollege / die lewe en die speelveld is ver van gelyk.  Party ploeter net voort en ander spring rats van die een suksesklip na die volgende, sonder enige inspanning.

As jy sien hoe jy uitstyg bo die res, doen dit verseker iets aan jou ego.  Jy sien jou banksaldo en bates groei.  Jy bevind jou in kringe waar jy ‘n trofee eggenoot aankeer en kort voor lank is daar model kindertjies…

Wie het God nog nodig as jy dit self kan doen?  Wie wil nou elke Sondagoggend opstaan terwyl jy nog kan slaap om na ‘n vervelige kerkdiens te gaan luister?  Die dominee kyk in elk geval net met leepoë na jou, hopende jy sal jou tiende gee… waarvoor jy gewerk het, nie die kerk nie.

In teorie hang jou sukses net van jouself af, of hoe?  Genesis 12 : 2  Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees.

Jammer om jou borrel te bars met die waarheid wat aan jou gebring word vanuit Die Bybel… ‘n boek wat Daniël beskryf het as die Boek van die Waarheid (Daniel 10 : 20).  Dit is nie jy wat so goed is nie… dit is God wat jou die krag gee om rykdom te verwerf en omdat jy dit gemaak het, is jy veronderstel om ‘n seen vir ander te wees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...