Thursday 1 November 2018

Keer terug


Psalm 119 : 59  Ek het die koers van my lewe oordink en na u verordeninge teruggekeer.

Vandag wil ek met jou praat wat afgedwaal het.  Jy weet dat jou verhouding met God nie meer is wat dit moet wees nie.  Daar was ‘n tyd toe jy so naby aan God was… dat jy gereeld Bybelstudie gedoen het… gereeld met Hom gesels het, kerk bygewoon het.,, maar vandag moet jy erken dat dit lankal nie meer die geval is nie.

Die dief kom in die nag om te steel en te vernietig en net so kom satan geruisloos, wanneer jy dit die minste verwag en lei jou in versoeking – weg van God.  Jy word wysgemaak dat daar eenvoudig nie tyd is vir Bybel lees nie.  Jy glo jy moet darem net een dag van die week slaap kan inhaal… op ‘n Sondag.  Jy weet nie meer wanneer laas jy gebid het nie.  Dit is asof jy wil, maar woorde ontbreek jou.  So af en toe prewel jy ‘n paar woorde, maar dis nie gefokus nie en kon net sowel maar agterweë gebly het. 

Of dalk is jou lewe op ‘n pad wat baie ver van God en geloof verwyder is.  Jy is dalk betrokke in aktiwiteite wat jy weet sondig is, maar jy kan jouself nie losskeur nie.  Op die een of ander manier het jy in hierdie maalkolk beland en dit is besig om jou al dieper en dieper in te suig.
 
Miskien is jy selfs skaam vir wie jy geword het.  Jy verafsku die mens wat jy geword het en jy voel dat God jou nooit kan of sal vergewe nie.  Dit is nooit te laat nie en niemand kan sover val dat God se hand jou nie kan bykom nie.  Soms moet ons erken dat ons op die verkeerde pad is en omdraai / terugkeer.

Net soos wat die Vader ‘n fees voorberei het vir die verlore seun, sal God jou met ope arms terugtrek in die kring van Sy beskermende arms.  Hy is so ontsettend lief vir jou.  Om die waarheid te sê Hy het reeds alles gedoen, gesterf aan ‘n kruis sodat jy sonder sonde kan wees.  En daarom is jy vry en welkom om terug te keer na God.

Wil jy dit nie vandag doen nie?


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...