Sunday 4 November 2018

Laat gaan


Eksodus 4 : 2  Toe vra die Here vir hom: “Wat het jy in jou hand?” “'n Kierie,” antwoord Moses.

God wou Moses gebruik, maar Moses was vol verskonings.  Hy hakkel… die mense sal hom nie glo nie… wat hy eintlik sê is dat hy nie waardig is vir die werk wat God vir hom in gedagte het nie.  Dalk selfs indirek dat hy God nie vertrou nie.

Iemand het gesê “God is not interested in your ability, but in your availability”.  Ek en jy is ook vol verskonings.  Ons het nie tyd nie, ons is nie gekwalifiseer nie, wat sal die mense sê? 

Toe God vir Moses vra wat hy in sy hand het en hy antwoord ‘kierie’, vra God hom om dit neer te gooi.  ‘n Kierie is iets waarop ons leun… dis ‘n kruk.  Om jou kruk neer te gooi is skrikwekkend en veral vir iemand wat daarvan hou om in beheer te wees, is dit vreesaanjaend.  Moses se herderstok (kierie) het sy identiteit en sekuriteit verteenwoordig.  Waar Moses gegaan het, het sy kierie gegaan.  Met hierdie kierie het hy homself en sy kudde beskerm.  God het dus van Moses verwag om dit wie hy is en wat hy het, te laat gaan. 

Is daar in jou lewe dinge wat in jou pad staan om die mens te word wat God jou bestem het om te wees?  Waaraan klou jy vas?  Is dit jou verlede, jou beroep, jou inkomste, jou besittings of gebrek daaraan, ‘n lae selfbeeld, verslawing… Die oomblik toe Moses die kierie neergooi, het dit in ‘n slang verander.  Moses het geskrik, maar God sê hy moet dit aan die stert gryp en dit word weer ‘n kierie.  

Is dit normaal vir ‘n stok om in ‘n slang te verander en weer terug te verander?  Nee!  Jy sien as jy nie laat gaan nie, kan God nie wonderbaarlike dinge doen nie. 

Gaan jy langer vasklou en self daarmee woeker of gaan jy dit neergooi en kyk wat God daarmee kan doen?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...