Thursday 22 November 2018

Leer by die mier


Spreuke 6 : 6  Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk, en leer by hom.

Robert Hicks het gesê:  “Om te voel dat ons geregtig is op dinge, sonder om die nodige werk te doen om dit te bekom, maak ons ‘n samelewing van luiaards.

In Suid-Afrika is daar baie mense wat reken hul is geregtig op baie dinge sonder dat dit nodig is om daarvoor te werk.  Hulle glo selfs dat diegene wat wel iets het, dit sonder enige inspanning ontvang het.

Hoe kan jy goed voel aan die einde van ‘n dag as jy nie gewerk het nie?  Werk gee immers betekenis aan ons lewens.  Die Chinese het die regte idee met hul spreekwoord:  Moenie vir iemand ‘n vis gee nie, leer hul eerder om vis te vang.

Wanneer jy hoor hoeveel mense werkloos is, wonder ek altyd hoeveel mense dalk nie wil werk nie.  Dit is veel makliker om ‘n toelaag te ontvang as om elke dag op te staan en jou brood in die sweet van jou aanskyn te moet verdien.

Diegene wat verantwoordelikhede het, sal hul vingers stompies werk om nie dit waarvoor hul gewerk het te verloor nie. 

Selfs al kom jy met die absolute minimum klaar, weet ons dat jy geld nodig het.  Sekere dinge moet betaal word… water, krag, skoolfonds, kos, selfs data om werk te soek…  Die lewe is duur.  Jy kan vir geen oomblik dink dat geld uit die lug sal val of dat jy eenvoudig by iemand anders gaan intrek omdat jy nie die mas kan opkom nie.  Ons wil almal help… but sometimes you have to be cruel to be kind. 

Wanneer mense net ontvang sonder om te werk, kweek dit ‘n bakhand samelewing.  Vandag is dit kos, môre huise, ens… Dalk het sommige politieke partye nie ‘n slegte idee nie… alles behoort aan die staat… die staat gee vir almal toelaes, ons spandeer dit so die staat kry dit weer terug en deel dit weer uit.  Dit alles terwyl ons lekker agteroorsit en niks doen nie.

Dis nie wat die Woord van God sê nie.  Ons moet by die mier leer… miere staan nooit stil nie.  Miere werk hulself letterlik dood. 

Jy kan natuurlik ook nie met ‘n luiaard redeneer nie, want  Genesis 26 : 16  Die luiaard dink hy het meer wysheid as sewe mense wat verstandige antwoorde kan gee  en hul is regtig nie van plan om te werk nie. Genesis 21: 25     'n Lui mens soek sy dood, want hy wil nie sy hande uit sy moue steek nie;

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...