Wednesday 7 November 2018

'n Baie besonderse kwalifikasie


Psalm 105 : 17  het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
Josef het vir God geëer deur versoekings te weerstaan.  Uiteindelik sou hy ‘n baie belangrike posisie in Egipte beklee. 
Josef se pad tot by die troon in Egipte was egter nie maklik nie.  Hy is deur sy broers in die put gegooi.  Hulle het sy kleed in bloed geweek en vir sy pa geneem wat getreur het oor die dood van sy geliefde seun.  Niemand sou na Josef kom soek nie.  Hy is as slaaf verkoop, in swaar boeie vasgemaak en agter ysterdeure toegesluit.  (Psalm 105 : 18) Sy swaarkry het aangehou totdat God se plan waar geword het; totdat alles mooi opgelyn was sodat God hom kon gebruik.  Vers 19 :  totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het.

Partykeer bevind ek en jy ons ook in haglike toestande, soos Josef.  Dinge loop verkeerd, mense verraai ons, hul draai teen ons, ons verloor alles… en ons dink dat God ons verlaat het.  Waar is God te midde van hierdie gemors waarin ek my bevind? vra ons dikwels.

In Genesis 39 lees ons 5 keer  Die Here was met Josef.”  God het nie die lyding of krisis weggeneem nie, maar Hy was die hele tyd daar.  Dis die punt wat ek en jy dikwels mis.  God is daar elke tree van die pad.  Hy draai nie vir een oomblik sy rug op jou nie.  Hy laat jou NOOIT in die steek nie.

Toe Josef nie toegee aan Potifar se vrou nie, bedink sy ‘n plan om hom vals te beskuldig.  Hulle glo haar en Josef eindig in die tronk op.  Daar word hy op die ou einde die hoof van die tronk. In die tronk sou hy ook drome uitlê.  Heelwat tyd sou verloop, tyd waartydens Josef getrou gebly het.   Omdat Josef getrou was en die toets geslaag het, het God dit op die koning se hart gelê om Josef vry te laat en aan te stel as hoof van die paleis.  Josef het beheer gehad oor al sy besittings. Psalm 105 : 21 en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings.

Terwyl ek en jy dikwels paniekbevange oor ons situasie raak, is God alreeds besig met ‘n plan.  Hongersnood was op pad, maar God het ‘n plan, want Josef is reeds vooruit gestuur.  Alles wat Josef deurgegaan het, verraad, onregverdigheid, vals beskuldigings, gevangenisskap… het hom voorberei vir die taak wat God vir hom in gedagte gehad het.  Wat ek en jy deurgaan, berei ons ook voor vir ons lotsbestemming!  Ons is vir iets groter bestem en daarom moet ons getrou bly.  Moenie moed verloor nie.  Hierdie is toetse en eksamens vir ‘n baie besonderse kwalifikasie om in diens van God te kan staan.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...