Monday 26 November 2018

Wees 'n Abraham


Genesos 13 : 8 – 9  Toe sê Abram vir Lot: “Daar behoort nie 'n getwis te wees tussen my en jou en tussen my veewagters en joune nie, want ons is familie.  Die hele land lê oop voor jou. Gaan jy liewer weg van my af. As jy links gaan, gaan ek regs; en as jy regs gaan, gaan ek links.”

Abraham en Lot het nie goed oor die weg gekom nie.  Abraham het geweet dat hul voortdurende onmin God bedroef het en dat daar net een manier is om die onmin hok te slaan… hul moes uit mekaar se hare uitkom.

Nou moet ons onthou dat Abraham die een is op wie God se guns rus… die een wie se nageslag soos die sand van die see sou wees, maar Abraham hou hom nie beter nie.  Hy laat Lot eerste kies.  En ons weet mos nou wat gebeur as jy iemand toelaat om te kies.  Jy trek gewoonlik aan die kortste ent en so was dit ook.

Lot kies die beste deel;  die waterryke en vrugbare gedeelte.  Abraham kry die bar, woestynagtige deel.  Hoekom sou Abraham so dom wees?  Abraham dink nie net aan homself nie, hy dink aan wat in God se oë reg is.  Vrede bo ‘n langdurige familietwis.

Ironies genoeg het die storie vir Lot nie so ‘n goeie einde nie, maar wel vir Abraham, want Abraham was gehoorsaam aan God.  Omdat hy bereid was om die minste te wees, het God hom met dubbel soveel geseën… met vrede en vrugbare grond.  God is ‘n voorstaander van vrede en is getrou en regverdig.

Waaroor is daar onmin in jou familie?  Is daar ego’s wat in die pad van vrede staan?  Verwag jy dat die ander party moet toegee of ingee?

Wees ‘n Abraham.  Dit is nie nodig om altyd reg te wees of te ‘wen’ nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...