Friday 7 December 2018

Ons sal nie buig nie


Daniel 3 : 17 – 18  Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag.  Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie.”

Sadrag, Mesag en Abednego is saam met Daniël gevange gehou in Babilonië.  Die Babiloniërs was ‘n veglustige nasie en het Juda en Israel verslaan.  Die volk het reeds 70 jaar in gevangeneskap geleef.  Hulle is daagliks uitgedaag op verskeie maniere.

Koning Nebukadnesar het nogal bewondering gehad vir hul toegewyde geloof en trots, maar hy wou hul inlyf by sy volk se kultuur.  Die beste manier sou wees om hul sover te kry om hul geloof prys te gee en saam met die res afgode te aanbid.

So bevind die volk hul saam met die Babiloniërs en daar word van hul verwag om, wanneer die musiek begin speel, voor ‘n goue beeld van die koning te buig.  Diegene wat nie buig nie, sou in ‘n brandende oond gegooi word.  Wat sou ek of jy gedoen het?

Die drie Joodse manne skop egter vas.  Nebukadnesar is selfvoldaan en hy vra:  “As julle nie bid nie, word julle in die oond gegooi en wie sal julle dan daaruit red.”  Dis toe dat die manne in vers 17 en 18 antwoord.  “Ons weet God kan ons red, maar as Hy dit nie doen nie, sal ons nog steeds nie u god aanbid nie.”  Wow!  Dis nou om koelkop te bly as die oond se deur oopstaan.

Die uiteinde was dat hul nie voor die beeld gebuig het nie.  Hul is in die oond gegooi en vooraf het die koning gevra dat die oond sewe keer warmer gemaak moet word.  Dit was so warm dat die manne wat hul ingegooi het, verswel is deur die hitte.

Mense, ek wens ek kon Koning Nebukadnesar se gesig sien toe hy in die oond kyk en sien die manne wat vasgebind was, loop los rond en wat meer is, daar is ‘n vierde persoon in die oond! 

Dit is wat God doen as jy glo… nie net sal Hy jou beskerm wanneer jy deur die smeltkroes van die lewe gaan nie, maar Hy sal saam met jou te midde daarvan wees.  Net soos wat hy in Psalm 23 beloof om saam met jou deur die dal van doodskaduwee te gaan en jou verseker in Jesaja 43 vers 1 – 2 dat hy saam met ons deur die rivier en vuur sal gaan… dat die water ons nie sal wegspoel en dat die vuur ons nie sal brand nie… Dit is die God wat ons dien!  Hy sal jou nooit ooit versaak as jy aan Hom vasklou nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...