Thursday 6 December 2018

Bid en twyfel gaan nie saam nie


Jakobus 1 : 6 – 8  Maar 'n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel, is soos 'n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word.  So 'n mens wat altyd aan die twyfel is en onbestendig is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.

As jy al vir weke en maande lank vir iets gebid het, sonder om God se hand te sien beweeg, wil ek nog die Christen ontmoet wat nie twyfel nie.  Dis nie asof jy wil twyfel nie, maar die een oomblik glo jy vas en dan gebeur steeds niks… dan wankel jou geloof weereens.  Jakobus vergelyk dit met ‘n brander.  Vorentoe, agtertoe, vorentoe, agtertoe..

Jakobus waarsku ons hierteen.  Hy sê juis ons moet bestendig wees.  Al manier om ingestel te bly, is om biddend te bly.  Natuurlik gaan satan twyfel saai, want hy weet presies waar jou swakpunte is.

Jakobus raai ons selfs aan om bly te wees wanneer ons deur beproewings gaan.  Jitte Jakobus!  Ek kan nie meer nie!  

Dis juis waarvan hy praat, want hy sê dat as ons ‘n toets deurstaan het, dit daartoe lei dat ons volhard en deur die volharding gaan ons uiteindelik ons lewensdoel bereik, geestelik gesond wees en niks kortkom nie.

Hy besef ook dat ons juis gedurende sulke tye nie logiese besluite kan neem nie.  Daarom raai hy ons aan om God vir wysheid te vra.  Jakobus bevestig ook dat God ons die nodige wysheid sal gee.

Bly biddend en as jy agterkom jou geloof begin wankel, bid vir wysheid en krag om staande te bly.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...