Sunday 2 December 2018

Trots


Jesaja 23:9  Die Here die Almagtige het dit besluit. Hy breek die trots, Hy maak die hoogmoed tot niks,

Trots kan ‘n struikelblok wees vir menige gelowige, selfs sonder dat ons dit weet.  Trots kan ons verhoed om drie eenvoudige woordjies te uiter:  “Ek is jammer.”  Trots kan veroorsaak dat verhoudings en vriendskappe sneuwel.  Trots kan jou beste, maar ook jou slegste eienskap wees. 

Partykeer gryp God in.  Hy laat daardie klein stemmetjie binne jou, jou aanhits om te gaan regmaak waar jy verbrou het.  Natuurlik is jou eerste instink om te sê:  “Ek was nie verkeerd nie… ek weier.”  Jy sien, verskoning gaan nie oor wie reg of verkeerd is nie.  Dit gaan daaroor om die minste te wees… die ander wang te draai. 

Jy mag dalk nie lus wees om dit te doen nie, maar dis ‘n goeie idee om gehoorsaam te wees.  Nie een van ons wil die Heilige Gees bedroef deur ons trots of hoogmoed nie. 
Tirus het duidelike tekens van hoogmoed getoon.  Hulle het krone vir konings uitgedeel, handelaars soos prinse ontvang, hul sakelui is hoog geag onder andere… (Aldus vers 8), en God neem ‘n besluit.  Hy gaan hul breek… daardie hoogmoed tot niks bring.

Dis lekker om erkenning te kry… dis lekker om suksesvol te wees, maar ons mag nie toelaat dat dit definieer wie ons is nie.  Nederigheid daarenteen is iets wat God se hart verheug.

Dalk is dit ‘n goeie idee om selfondersoek in te stel en seker te maak daar is nie ‘n gryntjie hoogmoed / trots in jou nie.  As daar is, raak daarvan ontslae.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...