Monday 28 January 2019

Breek af die afgodsaltare


Rigters 6 : 25  Breek jou pa se altar vir Baal af

God was op die punt om vir Gideon te gebruik om Israel van die Midianiete te bevry, maar hy moes eers die altare afbreek wat sy pa vir ‘n valse god gebou het.  Die altaar was al lank in die familie.   Dit was amper asof God wou hê dat hy eers breek met die verlede en vry kon wees om in diens van Hom te kom staan.
God verwag dan ook van hom om ‘n stewige altaar vir die Here, God te bou (vers 26) nadat die Baal altaar afgebreek is. 

Waarmee moet jy breek om bruikbaar te wees vir God?  Dalk is daar ook afgodsaltare in jul familie wat oor generasies deur een geslag na ‘n ander oorgedra is.  Dinge soos woedebuie, mishandeling, huweliksontrou, verslawing…  Die feit dat dit tot nou deel van die familie was, beteken nie dit moet deel van die toekoms wees nie.  Jy kan die altare afbreek en ‘n nuwe altaar bou.  Dis wanneer ons deur die Heilige Gees oortuig is dat daar verandering moet plaasvind en daardie eerste tree neem, dat God se hart vermurwe.  Hy sal jou hart en ook die seer wat daarmee gepaardgaan genees en wat meer is, Hy sal jou ook gebruik om ander se seer te genees.  Dikwels dink ons daar rus ‘n vloek op ons omdat die sondes van die vaders ons ingehaal het, maar verandering kan by ons begin en daarmee saam kan ons die gety laat draai vir ons nageslag.

Wanneer jy die afgode afbreek, sal dit van jou verg om jouself te ontbloot voor God… om totaal eerlik te wees en ook om vergifnis te vra.  Die bevryding wat jy hierdeur sal ervaar, kan geen geld koop. 

Dit gaan nie maklik wees nie en dalk sal dit verg dat jy iemand gaan sien wat jou op ‘n professionele vlak kan bystaan en ondersteun.  Verandering is altyd moeilik, maar die eindresultaat sal dit alles die moeite werd maak.

God beloof dat Hy jou sal omvorm, jou gedagtes sal vernuwe na aanleiding van Romeine 12 : 2.  Neem vandag daardie besluit deur te sê:  “Dit eindig vandag, hier en nou en dit begin ook vandag… by my.  Laat die genesing begin. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...