Thursday 24 January 2019

Fokus op jouself


Romeine 14 : 12  Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee

Hoe maklik oordeel ons nie mekaar nie?  Kyk maar net hoe die media hoogty vier meet nuusbrokkies oor rasseverskille.  Ons is so op mekaar se verskille ingestel dat ons nie eens agterkom hoeveel ooreenkomste daar is nie.

Ons dink as ons 'n verskil kan vind en daarop in-zoom, kan ons die ander persoon afkraak, verneder, neerbring en dan lyk ons mos beter.  Waar is naasteliefde in die prentjie?

Wanneer jy Romeine 14 lees, kom jy agter hoe relevant die Bybel steeds vandag is.  Ook ons soek 'n stok om iemand anders te slaan.  Partykeer dink ek die probleem is dat ons vir onsself leef en nie soos vers 8 aanbeveel dat ons vir die Here moet lewe nie.

Dis nie vir ons om fout te vind of te oordeel nie.  Ons is versonderstel om ons naaste lief te hê en dit gaan nie gebeur solank ek na verskille tussen ons soek nie.  Soos hy terg sê in vers 10:  Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn."  In plaas van my naaste dop te hou en probeer in 'n slegte lig stel voor God en ander, moet ek eerder verantwoordelikheid neem vir my eie siel.  Hoe tree ek teenoor my naaste op?  Wat doen ek om rassehaat te smoor?  Ek het geen beheer oor ander se optrede teenoor my nie, maar ek kan beheer hoe ek daarop gaan reageer al dan nie.

Wanneer ons nie vir onsself leef, maar vir die Here, sal ons uitkyk verander, want voor Hom is ons almal gelyk.  Daar is nie witbroodjies nie.  Daar is nie voorkeur of voortrekkery nie. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...