Sunday 13 January 2019

'n Nuwe Jaar


Hebreërs 10:32  Dink terug aan vroeër dae toe God julle tot die lig gebring het, hoe julle in die stryd staande gebly het toe julle baie moes ly.

Teen die einde van die ou jaar slaak meeste ‘n sug van verligting, dankbaar dat hul die jaar oorleef het.  Meeste sien uit na ‘n nuwe jaar, wat hul glo ‘n beter jaar sal wees as die voorafgaande een. 

Mense wens ook graag mekaar voorspoed toe.  “Mag die nuwe jaar vol geluk, vrede, vreugde en voorspoed wees.”  Daar is niks mee verkeerd nie en in die tyd waarin ons leef, kan ons almal doen met ‘n bietjie seënwense. 

Dit kan egter vals hoop skep.  Die nuwe jaar gaan nie sonder uitdagings en frustrasie wees nie.  Alles gaan nie altyd klopdisselboom verloop nie.  Ook aan die einde van die ‘nuwe jaar’ gaan ons weereens dankbaar wees om dit agter te laat.

Wat ons wel weet, is dat die Skepper van die heelal, melleniums voor ons geboorte reeds ons lewens haarfyn beplan het.  Dit is dus raadsaam om Hom deel van die nuwe jaar te maak.  Hy weet wat vir jou voorlê.  Hy gaan jou die krag gee om staande te bly.  Daar gaan tye wees waar hy jou sal moet optel en dra wanneer jy nie in staat is om een voet voor die ander te sit nie.

Daar kom tye dat ons bang is vir die toekoms.  Dalk betree jy ‘n nuwe fase en jy vrees die onbekendheid.  Dalk is jy vir die eerste keer alleen en jy is benoud.  Dalk staar jy groot uitdagings in die gesig en jou keel trek toe.

Dis die tye dat jy moet terugkyk oor jou lewe.  Hoe oud is jy vandag?  Het God jou in al hierdie jare al ooit in die steek gelaat?  Hoekom sal hy dit nou doen?

Onthou jy nog vir Petrus wat na Jesus op die water geloop het.  Ek is seker daarvan die onbekende daad moes moed geverg het… treetjie vir treejie.  Met sy oë op Jesus gerig het dit goed afgeloop.  Hy het eers in die water weggesak toe hy benoud geraak het, toe sy fokus en konsentrasie van God weggedraai het.  En selfs toe het Jesus hom met een ferm hand vasgegryp en uit dieptes opgelig het. 

Hou jou ook op God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...