Monday 14 January 2019

Klein dingetjies


Sagaria 4 : 10  Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.

Baie mense sal nie die moeite doen om 10 c op te tel wat hul in die straat sien lê nie.  Wat kan jy in elk geval met 10 c maak? 

Dit gaan nie oor die een 10 sent nie.  As jy elke dag, vir ‘n jaar lank 10 c sou optel, of dalk vir 10 jaar… ‘n Emmer word druppel vir druppel gevul.  Ons soek kitsresultate.  Ons soek daardie R1000 nou, maar ons vergeet van al die 10 sente waarop ons getrap het.  Dalk moes ons elke dag se stukkie brood wat God voorsien het opgetel het, soos die Israeliete destyds in die woestyn.  Nou bevind ons, onsself in ‘n woestyn en ons wonder hoekom.  Gaan ek dan nooit finansieel onafhanklik word nie?  Moet ek vir altyd voortsukkel of ander mense in die oë kyk?

So dink meeste van ons dat dit nie ‘n Christen beskore is om welvarend of suksesvol te wees nie.  Dis juis hoekom God dit in Deuteronomium 8 : 18 uitklaar.  Nee, julle moet onthou dat dit julle God die Here is wat vir julle die krag gegee het om alles bymekaar te maak. Hy het dit gedoen sodat die verbond altyd daar sal wees, die verbond wat Hy met julle voorvaders gemaak het.

Dis in orde om bymekaar te maak.  Dis in orde om genoeg en selfs te veel te hê.  In ‘n wêreld waar soveel mense swaarkry, hoef jy ook nie daaroor skuldig te voel nie.  Dit is die vervulling van God se verbond met ons voorvaders.

Daar is egter drie belangrike punte waarvan ons nie sig moet verloor nie:  (1)  Gee altyd jou tiende, selfs al het jy nog nie genoeg nie (Maleagie 3 : 10  Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.)  Moenie vir God beroof soos daar in vers 8 staan nie (2) Doen goed met wat jy uit die hand van God ontvang (Spreuke 11 : 25 Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is.) (3) Wees verantwoordelik met dit wat aan jou toevertrou word – moenie spandabelrig en roekeloos/gierig wees nie (Spreuke 21 : 20 In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie; 'n dwase mens bring sy goed deur.)


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...