Sunday 20 January 2019

Versoekings


Jakobus 1 : 12  Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Maandae is gewoonlik ‘n dag waarop mense besluit om met ‘n dieet te begin.  Ongelukkig verjaar mense ook op Maandae en niks is erger as om nee te sê vir ‘n oorlaaide kleinbordjie met die allerlekkerste eetgoed daarop terwyl jou maag grom nie.  Sjokoladekoek, yskastert, melktert, souttert…

Dis maar ‘n klein toetsie.  Die wêreld sal nie vergaan as jy ingee en besluit om eerder Dinsdag in alle erns met die dieet te begin nie.  Maar dit kweek nie standvastigheid nie.  Jy sien wanneer ons klein toetsies deurkom, is die eksamen nie so moeilik nie.

Om vandag ‘n kruising oor te steek terwyl die lig rooi slaan, mag jou dalk nie ‘n verkeersboete besorg nie, maar môre doen jy dit weer en is daar ‘n botsing waar mense hul lewens verloor.  Hoe leef jy dan daarmee saam?

Iemand besluit selde vandag dat hul môre ‘n groot misdaad gaan pleeg.  Dit begin klein.  ‘n Wit leuentjie hier en daar… winkeldiefstal, inbrake en dan is daar geen keer meer nie.  So begin party met dagga vir die pret en kort voor lank verkoop jy jou siel vir dwelms.

As jy vandag niks daarvan dink om ‘n pen, ‘n rol toiletpapier of ‘n blik koffie by die werk weg te dra nie mag dit wees dat jy iewers in die toekoms ook niks daarvan gaan dink om te swig voor groter versoekings nie.

‘n Goeie toets sal wees om jouself af te vra of Jesus dit sou doen.  Satan het Hom ook probeer versoek, maar Hy het die toets deurstaan.

Satan het nog nie opgegee nie.  Hy is nou met jou en my besig en wil ons oortuig dat dit niks is nie… dat almal dit doen… dat niemand eers sal agterkom nie.  Dit maak dit nog nie reg nie.  Moenie toelaat dat versoekings jou van die grootste prys ooit weerhou nie.  Die oorwinningsprys.

Psalm 51 : 8  Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...