Wednesday 27 February 2019

Dankie


Lukas 17 : 17  Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Hoekom dien jy God?  Of dalk moet ek vra wanneer dien jy God?  Sien jy Hom as ‘n Voorsiener en Towerfee wat jou voorspoedig maak en uit moeilikheid kan help, Iemand wat jy by geleentheid dien wanneer jy Hom nodig het?  Dalk is jy vinnig om te sê:  “Nee, dis nie hoekom ek Hom dien nie.”

Hoe lyk jou gebede?  Is dit ‘n bestelling wat jy plaas en verwag dat aflewering, gratis, so gou moontlik sal geskied?  En as Hy jou bestelling foutloos aflewer, sê jy dankie?

Uit die tien melaatses het net een teruggekom om dankie te sê.  Dit is tekenend van die mens se ondankbaarheid.  Ons verwag van God om ons gebede te beantwoord en natuurlik op die manier wat ons wil hê dit beantwoord moet word.  En Hy moenie draai nie.  Ons is besig en ons het nou Sy hulp nodig, anders sou ons nie gevra het nie.

Jy kan God nie Sondag in die kerk aanroep, maar Hom Maandag uit die raadsaal uitsluit nie.

God behoort jou alles te wees… jou alfa en jou omega… jou begin en jou einde.  Jou lewe behoort aan Hom.  Jy behoort aan Hom. Dien Hom met jou hele hart, jou hele verstand en jou hele siel.  Hy is nie ‘n geleentheidsgod nie.  Hy is die Enigste God.  Ja Hy is ‘n Voorsiener, Geneesheer en Helper, maar Hy is ook ons Verlosser en Saligmaker. 


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...