Monday 11 February 2019

Denke


Filippense 4 : 8  Alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is, daarop moet julle julle gedagtes rig.

Daar word gesê dat jy is wat jy dink.  As jy negatief dink, gaan jy negatief raak en dieselfde is waar van positiewe denke.  Is jy ingestel op jou denke?  Is jy so fyn ingestel dat jy elke oomblik van die dag in beheer van jou denke is?

Ek dink gedagtes is soms ‘n trop wilde perde wat ‘n rigting inslaan wat ons nie altyd voorsien het nie. 

Die goeie nuus is dat jy jou gedagtes kan beheer.  As jy dit nie doen nie, kan hul jou beheer.  Ons weet dat die tong ‘n magtige swaard is, maar die tong gee net klank aan gedagtes.  Elke woord begin as ‘n gedagte.  Om te kla of kritiseer het hul ontstaan in jou gedagtes.  Ons dink ons voel nie lekker nie, dan sê ons dit vir almal met wie ons in aanraking kom en kort voor lank glo ons ons is siek… Gedagtes lei tot gevoelens, nie andersom nie.  

Ons is so krities in ons gedagtes oor ander se optrede dat ons alewig fout vind met alles wat ander doen of sê.  Maar ook hier kan God ons vernuwe volgens Romeine 12 : 2  Laat God julle omvorm deurdat Hy julle denkpatrone verander.  Hoe jy oor ander dink is hoe jy hulle gaan ervaar.  Dink 'n bietjie hieroor.

Wees ingestel op wat jy dink.  As alles wat jy dink verwoord sou word en ander dit kon hoor, wat sou hul indruk van jou gewees het?  Net omdat ons nie sê wat ons dink beteken nie dat ons gedagtes in orde is nie.  Dalk vloek jy nooit hardop nie, maar in jou gedagtes is dit die een knoop op die ander.  Onthou God het toegang tot ons gedagtes.

Span jou gedagtes tot jou voordeel in.  Dink aan maniere om jou gedagtes in ‘n positiewe rigting te kanaliseer en jou, sowel as ander, op te bou eerder as om negatief of afbrekend te wees.

Wanneer jou gedagtes rein, edel, reg en aanneemlik is, sal dit moeilik wees om ander te na te kom.  Mense sal by jou wil wees en meer soos jy probeer wees.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...