Tuesday 19 February 2019

Toewyding (2)


Lukas 9 : 23  Toe het Hy vir almal gesê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg,

Die volmaakte voorbeeld van toewyding, vind ons in Jesus.  Hy het nie een oomblik Sy eie belange gesoek terwyl Hy op aarde was nie.  Sy hele lewe was een van diensbaarheid.  Hy was die minste, al was Hy die Seun van die Allerhoogste.

Hy het nie aardse besittings nagejaag nie.  Sy fokus was mense… verlore mense.  Hy het alles gedoen wat Hy kon om mense van die almag van God te oortuig.  Hy het Homself afgesonder, soveel tyd as moontlik met God deurgebring sodat Hy meer gehad het om aan honger siele te gee. 

Sy toewyding was radikaal, van Sy geboorte in ‘n stal tot Sy leiding en kruisdood.  En daarom kon Hy aan die einde prewel:  “Dit is volbring.” 

Hoeveel van ons sal op ons sterfbed dieselfde woorde kan uiter?  Is ons seker wat ons doel is… wat van ons verwag word… wat op daardie doenlysie staan… en werk ons daadwerklik daaraan om elke item afgemerk te kry? 

ü  Bely sondes
ü  Vra vergifnis
ü  Kom tot bekering
ü  Soek die koninkryk van God
ü  Maak vrede
ü  Wy lewe aan God deur die boodskap van verlossing te verkondig
ü  Doen goeie dade
ü  Dien ander deur die hande en voete van Jesus op aarde te wees
ü  Red siele
ü  Voeg jou eie items by

Jesus se finale opdrag was nie om uit te gaan en soveel besittings as moontlik bymekaar te maak of seker te maak jy het ‘n lekker tyd nie…Die opdrag het glad nie eens oor jou gegaan nie, maar oor ander.  Die opdrag was om vissers van mense te wees.  Daar is werk om te doen.  Matteus 9:37 Hy sê toe vir sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.

Sonder ons toewyding gaan siele verlore en daarvoor sal ons verantwoording moet doen.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...