Monday 18 March 2019

Lewe of dood?


Jeremia 32 : 33  Hulle het hulle rug na My toe gedraai, nie hulle gesigte nie. Ek het hulle vroeg en laat geleer om goed te luister, maar hulle wou nie hoor nie, hulle wou nie uit straf leer nie.

God is moeg gepraat… Hy praat mooi, probeer hulle leer, straf hul selfs, maar hulle leer eenvoudig nie.  Dis hoekom Hy die stad in die mag van die Galdeërs gee.

Soms raak ouers net so gefrustreerd met kinders.  As ouer doen jy jou bes.  Jy stel ‘n voorbeeld, jy sê pertinent wat is toelaatbaar en wat is nie toelaatbaar nie, jy help reg, sien oor en help weer reg.  Frustrasie en magteloosheid raak deel van jou daaglikse bestaan.  Dis gevoelens waarmee ‘n ouer met ‘n dwelmverslaafde kind goed kan identifiseer en so ook ouers wie se kinders met verkeerde mense bevriend is.

Daar kom ‘n tyd dat jy besef dat iemand nie gehelp kan word nie, altans nie op daardie tydstip nie.  Dit is wanneer iemand aanhoudend verskonings maak.  Jy kan nie iemand help as hulle nie gehelp wil word of nog erger nie die verlossings volgens die Skrif wil toepas nie.  As hulle nie glo dat God hul kan help nie, watter kans staan jy?  

Jy kan ook nie iemand help wat in die verkeerde sirkels beweeg nie.  1 Korintiërs 15 : 33  is duidelik Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.”  Jy word aan jou vriende geken en hul invloed kan positief of negatief wees.  So as jy nie losbreek nie, kan jy afgetrek word saam met hulle.  Hulle dra beslis nie jou beste belange op die hart nie. 

As iemand dus nie wil losbreek of verander nie, kan jy net aanhou om vir hulle te bid.  Jy sal jou tyd mors om hul te probeer help.  Help liewer diegene wat gehelp wil word… diegene wat lewe bo dood gekies het.  Deuteronomium 30 :  19 Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

Om gehelp te word, is ‘n keuse… ‘n keuse tussen lewe en dood.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...