Wednesday 3 April 2019

Gee, gee, gee


Ons werk onsself dikwels kapoet net om sukses te behaal en dan is ons steeds teleurgestel in ons pogings, want dis asof ons net nie ons doel kan bereik nie.

Hou onmiddellik op om sukses na te streef.  Jy lig dalk nou ‘n wenkbrou en sê dat dit ‘n bietjie verregaande is… mens moet altyd daarna streef om iewers in die lewe te kom, om jou omstandighede te verbeter.  Ja, ek het nie gesê dat jy nie suksesvol gaan wees nie, jy doen dit net op die verkeerde manier.  Gebruik liewer dieselfde energie en entoesiasme om te gee.  Jy’t reg gelees.  Weereens skud jy jou kop.  Hoe gaan ek beter daaraan toe wees as ek aanhou om weg te gee?

Dis waar ons as mense so kortsigtig is.  Ons kan nooit meer gee as wat ons van God ontvang nie.  Hoe meer jy gee, hoe meer gaan Hy jou mee seen.  Probeer gerus, ek daag jou uit.  Kyk of jy meer kan weggee as wat God aan jou gaan teruggee.  Ek weet dit maak nie sin nie.  God maak selde sin, dis hoekom Hy God is.  Sy weë is nie ons s’n nie, Sy gedagtes nie ons s’n nie…

Wanneer jy ‘n hart het vir diegene oor wie God trane van hartseer stort, gaan dit nie ongesiens verby nie.  Hy sien mense wat honger en dors is en Hy’t so mooi gesê : Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.’   As ons iets vir iemand soos hulle doen, doen ons dit as’t ware vir Hom.  Daar is stukkende mense rondom ons wat ‘n sagte woord en ‘n vertroostende paar arms so nodig het.  Hulle het nodig om Jesus deur jou te ervaar. 

Hy sien elke goeie daad en dit maak Hom gelukkig.  Ons weet dat hy die saad sal vermeerder wat ons saai. 

Probeer van vandag af om ten minste een persoon se lewe aan te raak op ‘n manier wat Jesus dit sou doen.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...