Tuesday 2 April 2019

Jou tyd


Partykeer hoor ek mense sê:  “Ek wag vir my skip om in die hawe aan te kom.”  Menende hul wag op goeie tye… dat hul tyd uiteindelik sal aanbreek.

Vandag wil ek vir jou sê:  “Wanneer jou tyd aangebreek het, sal niks en niemand dit kan keer nie…  Nie die verswakkende ekonomie nie, nie jou ‘vyand (e)’ nie, nie die grootste en sterkste mens nie.”  Jy sien wanneer God gereed is om jou op te hef, kan geen bose mag dit keer nie.  Jou oomblik kan vandag wees.  Elke dag is nuut en vandag is ‘n nuwe dag met nuwe geleenthede en moontlikhede. 

Ek en jy het net een kans om vandag te leef.  Dit kom nooit weer nie.  Daarom moet ons die beste gebruik maak van elke oomblik… niks mis nie.  Jou roeping op aarde is om te leef tot eer van God sodat jou lewe ‘n getuienis kan wees van dit waartoe Hy in staat is.

Dis hoekom jy op die perfekte plek is daar waar jy jouself nou bevind.  Laat ander maar praat… laat hul maar skinder… laat hulle maar negatief wees… wat hulle van jou dink of sê maak nie saak nie en dit sal ook nooit verander aan wat God van jou dink nie.  Jy is Syne.  Hy is ontsettend lief vir jou.

Ek bid dat God jou sal beskerm teen aanslae van die vyand, dat daar ‘n einde sal kom aan enige vorm van neerslagtigheid wat jy mag ervaar en ek verklaar dat die vreugde van God jou sal vul en omring.  Dit is jou tyd… dit is God se tyd vir jou… Alles is perfek in posisie en gereed. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...