Wednesday 24 April 2019

Onsekerheid


Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Ons leef in onseker tye.  Protesoptogte en oproerigheid neem toe en word by die dag meer gewelddadig.  Verkiesingsbeloftes word gemaak wat mense heelwaarskynlik ontnugter gaan laat en wie weet wat dan gaan gebeur.  Gaan die grondwet verander word?  Hoe gaan dit eiendomsreg in Suid-Afrika beinvloed?  Waar gaan ek werk kry na ek klaar studeer het?  Hoe gaan ek oorleef op my karige inkomste terwyl pryse bly styg?

Dit is so… ons weet nie wat die ekonomie gaan doen nie… ons weet nie wat die toekoms inhou nie… partykeer weet ons nie eens hoe om te bid nie (Romeine 8 : 26).

En dan lees jy ‘n teks soos Romeine 8 vers 28 waar Paulus begin met “Ons weet!” Dit is die verskil tussen ons uitkyk en God se uitkyk.  God weet presies wat die toekoms inhou.  Hy weet reeds waarheen ons op pad is en die goeie nuus is dat Hy alles ten goede laat meewerk… vir die wat Hom liefhet.  Ons vind berusting daarin dat God besig is… Hy sit nie handegevou nie.  Al sien ons nie enige positiewe verandering nie, beteken dit nie dat God nie daarmee besig is nie.  Wanneer dinge in ons guns werk, beteken dit nie dis omdat ons so oulik is nie, maar dat dit op die ou end tot verheerliking van Sy Naam sal wees.  Let ook daarop dat God ALLES ten goede laat meewerk, nie net sekere dinge nie.  Neem jou onsekerhede en vrese na Hom.

Weet jy wat is vir my die beste? God kan nie onverhoeds betrap word deur dit wat nou in ons land gebeur nie.  Hebreërs 1 : 11  Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.

Hy is in beheer en daarom hoef ek nie onseker te wees nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...