Wednesday 10 April 2019

Teleurstelling

Eksodus 5 : 22 – 23  Daarna het Moses weer na die Here gegaan en gesê: “Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur?  Van die eerste oomblik af dat ek by die farao gekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie!”

Dis amper asof Moses God sonder respek behandel en met Hom praat asof Hy sy gelyke is.  Hy is kwaad en teleurgestel in God.  Moses was nou nie juis perfek nie, maar hy was immers uitgekies deur God om die Israeliete uit Egipte te ly.  Hoe durf hy so met God praat?

Dalk moet ons nie so vinnig vinger wys nie.  Ek is seker as ons so bietjie sit en dink, sal ons onthou waar ons ook teleurgestel in God was.  Dink maar aan verhoudings… tye waar jy nie met die regte persoon deurmekaar was, maar so blind was van liefde dat jy God gesmeek het om dit so te bewerkstellig dat die persoon net oë vir jou het.  En toe gebeur die nie… jy verloor, wat jy glo, die liefde van jou lewe en jy blameer God wat nie jou gebede beantwoord nie. 

Of iemand naby jou raak siek en jy smeek God om hul te genees en dit gebeur nie…  Of jy het ‘n oortreding begaan en nou smeek jy God om jou hieruit te kry… jou straf vry te spring en dit gebeur nie… Of iemand behandel jou onregverdig en jy vra God om reg en geregtigheid te laat geskied, maar niks gebeur nie.

As God wou hê dat ons willose marionette in Sy hande moes wees, sou Hy ons sonder ‘n brein, emosies en ‘n wil van ons eie geskape het.  God het ons gemaak en Hy weet presies wie en wat ons is.  Daarom straf God nie vir Moses na hierdie tirade nie.  Hy neem onmiddellik aksie en sê:  “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.” (vers 24)

Ons hoef nie vir God of enige iemand anders te blameer wanneer ons teleurgestel is nie.  Wat ons wel moet doen is om ons hakke in te skop en te besef dat die vyand besig is met ‘n aanval. 

God dra jou belange op die hart.  Hy staan glad nie apaties teenoor jou nie.  Onthou elke oomblik dat Sy planne vir jou lewe voorspoed, ‘n toekoms en verwagting insluit.  Niks hiervan is negatief nie.  Wanneer die tyd reg is, sal Hy ingryp.  En wanneer jy terugkyk op jou lewe, glo ek dat jy sal sien hoe en waar Hy jou teen jouself beskerm het en jou deurgetrek het sonder ‘n skrapie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...