Thursday 11 April 2019

Vertrou op God


Jesaja 25 : 9  …dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou.

Hoop is dikwels die lewenslyn waaraan ons vasklou.  Ons weet dat daar lewe is solank ons hoop.  Om te hoop is ook om op God te vertrou.  Jy vertrou dat Hy uitkoms sal bring en dit is dikwels al wat ons staande hou.

Oor die eeue heen het mense gehoop dat God vir hul sou deurkom en in die Bybel is daar vele voorbeelde waar God wel vir diesulkes deurgekom het.  Soms moes mense egter vir jare aaneen bly hoop.  

Neem nou maar vir Josef.  Nadat sy broers hom in die put gegooi het, het hy sekerlik gehoop hul het berou en kom haal hom uit.  Hulle het hom uitgehaal, maar toe verkoop hul hom aan die Midianitiese handelaars.  Weer moes daar hoop opgeflikker het… miskien kan hulle hom terugneem na sy pa, maar helaas sy hoop word weer beskaam en hy word aan Potifar verkoop.  Ook daar het hy heelwaarskynlik gehoop dat sy goeie werk beloon sal word, maar toe vertel Potifar se vrou leuens oor hom en beland hy in die tronk… Keer op keer is Josef se hoop beskaam en het dit amper net al slegter en slegter met hom gegaan, maar Josef het in God geglo en op Hom vertrou.  Ons ken die verhaal… Uiteindelik sou hy die een wees wat sy hele gesin van hongersnood red.

Dit wat ons deurgaan is tydelik en deel van God se plan.  Ja dit is nie noodwendig die pad wat ons sou kies nie, maar dan... God se pad is altyd interessanter.  Omdat Josef bly glo en vertrou het, is hy opgehef.

Moenie ophou hoop nie… Moenie ophou glo nie… Moenie ophou om God te vertrou nie.  Hy sal vir jou deurkom.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...