Tuesday 16 April 2019

Waar kom jou rykdom vandaan?


Deuteronomium 8 : 18  Maar jy moet die Here jou God nie vergeet nie, want dit is Hy wat jou die krag gee om die rykdom te verwerf.

Na aanleiding van gister se gedagte, het iemand kommentaar gelewer dat hulle niks verniet gekry het nie, inteendeel, hulle werk baie hard vir wat hulle het.

Ek het die grootste respek vir mense wat hard werk en ek gun jou al die luuksheid en gemak wat daarmee saamgaan, maar soos vandag se teks sê, moenie vergeet dat God jou die krag daarvoor gegee het nie.  Sonder krag van God sou jy nie in staat gewees het om te kom waar jy vandag is nie.  Sonder Sy krag sal jy nie besit wat jy nou het nie.  En as jy selfs meer as ander geseën is, moenie dat dit jou selfvoldaan maak en vergeet waar alles vandaan kom nie.

Nie almal kry dieselfde geleenthede nie, maar dit is ook waar dat nie almal met die talente woeker wat hul ontvang het nie.  As jy vandag vind dat jy met afguns na ander kyk wat meer as jy het, ondersoek asseblief jou hart.  Jesus vertel ‘n gelykenis oor muntstukke (Matteus 25).  Een man kry 5 muntstukke, ‘n ander 2 en ‘n derde man 1 muntstuk.  Die eerste man verdubbel die geld, so ook die tweede.  Die derde man het dit begrawe en net die een muntstuk wat hy gekry het teruggee.  Wat gebeur toe?  Die een wat hy gegee het, word toe by hom afgevat en vir die ander gegee.  Ouch!  En die les wat ons hieruit leer?  Dit kan vir elkeen verskillend wees, so ek laat dit aan jou oor as deel van jou selfondersoek.

Ons dien ‘n regverdige God en daarom is dit net regverdig dat ons Hom erken vir die rol wat Hy in ons lewe speel en gehoor gee wanneer Hy met ons praat.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...