Wednesday 17 April 2019

Golgota


Matteus 26 : 53  Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel.

Ek het altyd gewonder waar Jesus se dissipels en al die ander wat Hy genees het was toe Hy hierdie paadjie na Golgota moes stap totdat ek Matteus 26 gelees het.  Net ‘n regstelling, ek het dit al voorheen gelees, maar hierdie keer het dit sin gemaak. 

Jesus het geweet Judas is op pad, die een wat Hom sou verraai.  Judas daag op met ‘n groot klomp mense met swaarde en stokke.  Die Judassoen sou die teken wees.  Judas is ewe vriendelik en vals.  Jesus knip hom kort op ‘n mooi manier:  “Vriend, doen wat jy moet doen.”  En nou weet die menigte wie hul teiken is.  Hul is ‘n oormag teen ‘n onskuldige persoon, verraai deur een van Sy volgelinge.  Hulle storm vorentoe en gryp vir Jesus.

Petrus doen wat ek altyd gehoop het iemand vir Jesus sou doen… Hy pluk sy swaard uit, gereed om een se oor af te kap en Jesus stop hom met die woorde hierbo.

Nou verstaan ek uiteindelik.  Die kruisdood op Golgota was vrywillig!  Jesus wou nie gehelp word nie… Hy het werk gehad wat Hy moes voltooi en laat ons nou maar eerlik wees, net ‘n woord van Hom en Hy kon uit die omstandighede uitgered wees, maar Hy was volkome toegewyd aan Sy taak op aarde.

My wens vir jou is dat Jesus se kruisdood wat ons môre herdenk, nie verniet was nie.  Dat jy sal onthou dat Hy die prys betaal het sodat jy vrygekoop kan wees. 

Mag jy ‘n vredevolle Paasfees geniet.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...