Tuesday 27 May 2014

Onregverdigheid



Hebreers 6 : 10  God is nie onregverdig nie

Verlede week is daar onderhoude gevoer met van die mynwerkers wat die afgelope 16 weke reeds nie ‘n inkomste verdien a.g.v.’n staking in die bedryf.  Ons sien die massas op die TV en hoor die verskillende argumente en dreigemente, maar ons besef nie dat daar ‘n groot groep is wat wil werk, maar nie kan bekostig om werk toe te gaan nie, omdat hul vermoor kan word. 

 Een en elkeen van hul het hul vrees vir die toekoms uitgespreek  - met goeie rede.  As jy verpligtinge het en jy het nie ‘n inkomste nie, sou jy ook bang wees.

Van die mense het vertel hoe skuildeisers nie na hulle wil luister nie.  Hul vrees elke dag dat dit wat hul op skuld gekoop het teruggeneem kan word.  Meer as ‘n duisend motors is reeds deur die bank teruggeneem.  Dis aardse goed, ons weet, maar dit bly  steeds hartverskeurend dat jare se harde werk verlore gaan,a.g.v. ander se onverantwoordelike optrede.

Daar is vertel van ‘n huiseienaar wat nie na die inkomstelose huurder se pleidooi wou luister nie, maar die deur van sy huis kom verwyder het.  Dit het die vrou en haar kind, wat alleen tuis was omdat haar man deeltyds by ‘n restaurant werk om die pot aan die kook te hou, in vrees gelaat.   

Aan die anderkant van die spektrum is daar besighede wat hul deure moes sluit a.g.v. die gebrek aan besteding.  Dit beteken dat iemand alles wat hy in ‘n besigheid gesit het, verloor en dat werknemers sonder werk en inkomste sit.

Gedurende sulke tye is dit seker maklik om te vra, “Waar is God dan? Hoekom laat Hy dit toe?”  Een man vertel hoe hy elke aand vir ‘n wonderwerk bid – dat die staking beeindig moet word sodat hy weer kan werk.

Wanneer ons toelaat dat vrees ons denke oorheers, verloor ons perspektief.  Fokus op God.  Maak nie saak hoe donker jou situasie is nie, as jy Hom eerste plaas sal Hy uitkoms bring.

Kom ons bid vir hierdie mynwerkers. Op die oomblik is daar geen wenners, net verloorders.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...