Monday 30 June 2014

Die belangrikste vak



Johannes 15 : 10 As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly,

Op skool leer ons lees en tel.  Onderwysers spandeer jare om wiskunde, wetenskap, geskiedenis, en so meer by ons in te dril.  Op universiteit word kennis verder uitgebrei en uiteindelik word nog ‘n generasie super-slimmes op die mensdom vrygelaat.  Volgens papiere, waarop hul baie trots is, en wat hul verdien het, is hul dan dokters, ingenieurs, tandartse, sielkundiges, fisici, dominees…  Maar, is hul toegerus vir die lewe?

Gemeet aan die tyd wat aan geleerdheid bestee word, spandeer ons min, tot geen tyd, daaraan om mense toe te rus oor dit wat werklik belangrik is, naamlik hoe om liefde te betoon, of hoe om liefde wat ander teenoor ons betoon te beantwoord.

As die gewig op die lewensskaal aan die ander kant swaarder geweeg het, was die egskeidingsyfer, die egbreuksyfer, mishandeling, verwaarlosing laer, of hopelik nie eens deel van ons woordeskat nie.  Dan sou daar nie soveel mense gewees het wat sielkundiges of huweliksberaders moes besoek, of van pille afhanklik was nie.  

Medici kan wonderbaarlike operasies doen, maar dieselfde medici, weet nie hoe om met hul tienerseun te kommunikeer nie.  Ruimtereisigers gaan maan toe, maar hul huwelike sneuwel.  

Die belangrikste vak word nêrens, behalwe in Die Bybel aangebied nie… en soms bly dit ook maar net by boekekennis. Stop die bose kringloop.  Leer almal rondom jou van liefde.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...