Thursday 28 May 2015

Uiterlike skoonheid

Spreuke 31 : 30  Uiterlike skoonheid hou nie, ‘n mooi voorkoms is nie alles nie;  as sy die Here dien, dan verdien ‘n vrou om geprys te word.

Te veel van ons maak op ons uiterlike staat.  Ons spandeer ‘n fortuin aan skoonheidsmiddels om onsself so goed as moontlik te laat lyk, om nie eens van grimering en klere te praat nie. Tegnologie verbeter sodanig dat meer en meer gedoen kan word om die lyntjies wat Vadertyd aangebring het te verwyder of ten beste te verminder en die behandelings is deesdae relatief bekostigbaar vir Mevrou Alleman.  Ouderdom word ‘n vyand wat met hand en tand beveg word.

Uiteindelik kan ons egter nie die uitwerking wat tyd op die mens het vryspring nie.  Toegegee, party verouder stadiger en beter as ander, maar op die ou end verkreukel en vergrys ons tog maar almal.

As jy dus jou eiewaarde bereken op jou uiterlike, gaan jy een of ander tyd teleurgesteld word.  Dis baie beter om te besef dat ware skoonheid daarin lê dat jy God dien.  Sy liefde maak dat elke lyntjie ‘n pragtige storie vertel.  Elke grys haar word die trots van die Meesterskilder.  Die skete en kwale wat ons ontwikkel raak deel van ons onkreukelbare karakter wat in Hom gevestig is en daar is omdat ons vir Hom gewerk het en littekens oorhou omdat ons die stryd oorwin het.


Aanvaar jou ouderdom met grasie en dankbaarheid met die seker wete dat jou ware skoonheid van binne kom.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...