Sunday 31 May 2015

Gideon Bybels

Openbaring  1:3  Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan,

In menige hotelkamer of gastehuis, sal jy ‘n Gideon Bybel vind.  Dit is voedsel vir ‘n honger, eensame, reisiger.  Die impak wat daardie gratis Bybel op iemand se lewe mag hê, word dalk geringgeskat, maar as jy die getuienis van Ron Archer lees, weet jy dat saadjies tog wel op vrugbare grond kan val.

Op die ouderdom van tien jaar, het Ron Archer ‘n rewolwer teen sy kop gehou, gereed om ‘n einde aan aan sy misrabele lewe te maak.  Gelukkig vir hom, het die rewolwer ‘n veiligheidsmeganisme gehad waarvan hy nie geweet het nie en het dit nie afgevuur nie.

Mens moet jouself afvra hoekom ‘n jong seun wil sterf instede van droom oor ‘n toekoms.

Hy het ‘n hartseer herkoms.  As gevolg van tragiese omstandighede het sy ma op ouderdom 14 ‘n prostituut geword en op 16, na mislukte aborsies aan hom geboorte gegee.  Hy het geen pankreas gehad nie, sy longe was nie goed ontwikkel nie en daar was nog ander fisiese afwykings.  Hy was ‘n ongewenste baba.

Toe hy begin skoolgaan, is bevind dat hy leergestremd is.  Hy het ook gehakkel.  Die lewe in die krotbuurt, Cleveland, Ohio was nie maklik nie.  As jong kind moes hy toekyk hoe kliënte sy ma slaan en soms het hul hom ook geslaan.  Dit is hoekom hy op 10-jarige ouderdom reeds nie meer wou leef nie.

Elke kind het net een persoon nodig wat in hom/haar glo.  Hy het daardie persoon ontmoet in sy graad vier jaar toe Mev Spears ingestem het om sy spraakterapeut te word.  Sy het vir hom ‘n Gideon Bybel gegee waaruit hy moes lees terwyl hy homself opneem.  Dit was die heel eerste keer dat hy ‘n Bybel vasgehou het.  Hy het dit gretig gelees en o.a. afgekom op die gedeelte van die hakelaar, Moses en ‘n klein skaapwagtertjie Dawid wat ‘n reus verslaan het.  Dit het hom laat besef dat God dikwels mense gebruik wat nie perfek was nie.  In sy eie woorde:  “ I began to understand that life can be a mess, but with His help it can become a message.

Danksy Mev Spears, het hy uiteindelik sy lewe omgedraai en later ‘n pastoor geword.  Met daardie einste Gideon Bybel het hy ‘n boodskap van hoop en heling begin verkondig wat sy ma, suster, ouma, oupa en ander familielede na God gelei het.  Dieselfde Bybel het hom gehelp om kerke te stig, herlewing te preek, vyf boeke te skryf, ‘n TV program aan te bied en leiers in Afrika en Indië by te staan met vrede samesprekings. 

Hy is innig dankbaar vir Gideons Internasionaal wat Bybels beskikbaar stel, want ‘n enkele Gideons Bybel het ‘n jong seun se lewe totaal en al omgekeer.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...