Monday 27 July 2015

Ek is swak

2 Korintiërs 12 : 8 – 10  Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

Wanneer dit nie met ons goed gaan nie, bid ons gewoonlik dat God ingryp.  Ons wil ook hê dat Hy ons probleme moet laat verdwyn soos mis voor die son.

As God dan nie ingryp nie en bowenal sê:  “My genade is vir jou genoeg,” is dit asof ons dikmond eenkant wil gaan sit en onsself bejammer.  God wil ons nie help nie en nou sal ons maar in stilte moet ‘suffer’. 

Dikwels hoor ons net ‘n deeltjie van dit wat gesê word en kom dan tot ons eie gevolgtrekkings.  Ons mis die kern van die boodskap ook in die gedeelte.  Soms is dit vir God nodig om vir ons nee te sê.  Elke ouer weet dat ons nee sê omdat ons a.g.v. ervaring weet dat dit vir die kind se eie beswil is.  Met God is dit dieselfde.  Hy sê nee omdat Hy beter weet. Dan kan Sy krag tot volle werking kom. 

Wanneer ons erken dat ons swak is, dan is ons op die beste plek ooit, want dan word ons omvou deur God se beskerming. 

So die wêreld en al sy boosheid kan maar kom.  Ek, nietige en swak mens, is gereed vir enige beledigings, ontberings, vervolgings en moeilikheid, want God is my rots.  Platgeslaan deur die lewe is daar net een rigting om te kyk, en dit is op, na God.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...