Monday 16 November 2015

Maak toe die deur

Joël 2 : 25  Ek sal julle vergoed vir die tyd van sprinkaanswerm op sprinkaanswerm toe my groot leër wat Ek teen julle gestuur het, julle verteer het.

Jy kan losbreek van die verlede.  Die pyn of hartseer wat jou gevange hou, definieer jou dalk tot nou toe, maar dit hoef nie saam met jou die toekoms in te gaan nie. 

Net soos ‘n swerm sprinkane landerye vernietig, vernietig gedagtes aan die verlede jou kanse op ‘n sorgvrye toekoms. 

God wil jou veel meer teruggee as wat jy verloor het.  Al die jare wat jy in die verlede vasgehaak het… al die trane… al die ure wat jy oor die verlede bly tob het… God wil dit teruggee en meer.  Hy wil vir jou ‘n toekoms gee, gevul met vreugde en blydskap. 

Sien al die pyn voor jou geestesoog in ‘n kamer.  Jy staan by die deur en vandag gaan jy daardie deur vir eens en vir altyd toemaak, omdraai en wegstap.  Die verlede en al sy pyn bly toegesluit die oomblik wat daardie deur toeklik.

Buite daardie deur is ‘n nuwe lewe, vol lig en ‘n liefdevolle God.   Die verlede is vergete en die toekoms wink vir jou. 


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...