Monday 23 November 2015

Oorwinning

2 Korintiers 2 : 14  Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus.

In ander se oë is jy dalk ‘n verloorder.  Hulle kyk neer op jou en party verlekker hul selfs in jou huidige situasie.  Miskien voel jy selfs of jy dit verdien waardeur jy op die oomblik gaan.

Jesus het eendag ‘n groep mense uitgedaag om die eerste klip te gooi as hul sonder sonde is.  Een na die ander moes hul wegdraai.  Niemand is sonder sonde nie.  Elkeen reken seker maar sy of haar sonde is nie so groot soos ander s’n nie.  Sonde bly egter sonde. 

God se beloftes lei ons altyd na oorwinning.  Wat dit beteken is dat dit nie saak maak waar jy jou tans bevind, wat ander sê of hoe desperaat jou situasie is nie… by God is daar altyd uitkoms.  So jy hoef nie op ‘n hopie te sit en jouself wys te maak dat daar geen uitkoms is nie.  Of jy werkloos is, jou eggenoot jou verlaat het, jy jou besigheid verloor het, jou kinders jou versaak het, jy jouself in ‘n diep depressiewe put bevind… daar is hoop.   Ons glo so maklik wat daardie listige stemmetjie ons wysmaak of wat koerante of ander mense se.  Hoekom glo ons nie so maklik wat God sê nie?    

Al is jy hoe platgeslaan, staan vandag op en sit jou geloof in aksie.  Indien jy in die hospitaal is, glo dat dit nie einde is nie.  Indien jy jou spaargeld verloor het, sien hoe jy weer van vooraf begin en selfs meer maak as wat jy ooit vantevore gehad het.  Ander sê jy is te oud, maar jy gaan binnekort ‘n gesogte pos losslaan.  Hoe meer onmoontlik jou situasie, hoe groter die kans op ‘n wonderwerk. 

Jy sien, ons dien nie ‘n God van gemiddeldes nie, maar wel ‘n God van wonders.  In Moses se hande is sy kierie net ‘n stok… in God se hande het dit die mag om water uit ‘n rots te laat vloei.  Sit jou situasie in God se hand, want Hy wil jou daaruit bevry en na oorwinning lei.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...